Monday 15 October 2007

'n Huis van jou eie

Ons (ek en my man) het uiteindelik 'n huis gekoop. Daar is niks wat my so “groot” (soos in,'as ek eendag groot is') laat voel soos hierdie dramatiese stap nie. Trou? Ag nee wat, dit was maklik. Waar om te werk? Kinderspeletjies! Maar om 'n huis te koop is om 'n stelling te maak oor wie jy is, in konkrete terme, soos min ander dinge tot dusver.

Met ons aankoms in Skotland het ons 'n reusagtige huis gehuur. Met 'n tuin, 'n lieflike uitsig oor die Forth rivier én 'n garage, vir dieselfde prys as 'n eenslaapkamerwoonstel aan die verkeerde kant van die treinspoor naby Londen. Ek sou graag in Edinburgh wou woon, maar dis goedkoper aan die hierdie kant van die rivier, en ek het van die naam Fife gehou – ek speel immers fluit.

Die huiskoopstelsel in Skotland is 'n uitgerekte en gekompliseerde affêre. Eerstens kies jy 'n huis waarvan jy hou en maak 'n aanbod daarop. Die huis se prys is óf fixed (vasgestel) óf offers over (die minimum bedrag waarvoor die huis verkoop sal word). Jou aanbod word saam met x-aantal ander mense s’n ingedien en die eienaar kies die aanbod wat hom die meeste aanstaan. Glo my, huiseienaars kies ad lib. As hy of sy nie van jou prys/gesig/nasionaliteit/bank hou nie, tough. Gedurende die tyd wat jy 'n aanbod op huis A gemaak het, mag jy nie op enige ander eiendom 'n bod maak nie, dis onwettig. En die eienaars vat soms hulle tyd om jou te laat weet of jy suksesvol is of nie. Jy kan dus nie opgewonde raak oor jou voornemende plekkie in die Skotlandse reën son nie.

Na ure se soektogte op die Internet en 'n paar verskille wat die huweliksbootjie deur
stormagtige waters gestuur het, het ons hierdie huis gekies:

Die droomhuis, met sy lieflike klipmure en oudwêreldse sjarme. Sou al die vriende en familie liederlik met só huis kon jaloers maak. Maar die droomhuisie het net-in-jou-drome huisie geword: ons aanbod is nie aanvaar nie.

Na erge kopkrappery en besoeke aan veelvuldige eiendomme (wat nie aan ons groeiende lys van vereistes voldoen het nie), het ons uiteindelik hierdie huis ontdek. Minder verruklik as die vorige een, meer prakties en alledaags. En goedkoper.

Ons aanbod, wat buitesporig hoër as die voorgestelde prys was, was ook onsuksesvol. Een of ander cowboy het amper dubbel die bedrag vir die huis aangebied as waarvoor dit in die mark was! Ons het ons stelling dat eiendom in Skotland goedkoper as in Engeland is, heroorweeg. Die gekke eiendomspryse het saam met bek-en-klouseer oor die grens getrek.

En toe, heeltemal uit die bloute, kom ons op ons huis af. En die prys is “vas”, die koper haastig, en ons aanbod word aanvaar. Halleluja! Nou het ons 'n huis, wat só lyk:


Onkonvensioneel, prakties, ruim, alleenstaande, met 'n groot tuin en baie ruimte vir verbetering. En dít is wie ons is.

Tuesday 9 October 2007

'n Traan vir Sonja


My ma stuur onlangs vir my 'n ou (Mei 2007) uitgawe van Sarie. Op die voorblad pryk Sonja Herholdt met haar neusring en pers hare. Alhoewel Sonja 'n ikoon van Afrikaanse vrouwees is, was sy deur die jare 'n objek van bespotting met haar hygende stemmetjie en soetsappige lirieke. Haar dramatiese makeover met moderne klere en 'n CD met die titel, van alle dinge, 'Reconstructing Alice', het my en my vriendinne oor ons koffiekoppies laat grinnik. Wie kan Sonja nou ernstig opneem? Behalwe derduisende Afrikaanse dames, gemeet aan hoeveel keer sy al op voorblaaie verskyn het.

My ma wou lankal vir my op Sarie inteken, veral noudat ek vêr in die vreemde woon, maar ek wou niks weet nie. Ek bly alreeds nie voor met die tydskrifte, boeke en uitstekende koerante wat hier beskikbaar is nie. Die tipe joernalistiek in Sarie kon my in die verlede tot in die afgrond frustreer, met artikels wat handel oor mense waarin ek nie belangstel nie en 'n voorkeur vir soetsappige taalgebruik. Verder, het ek my ma nukkerig ingelig, is ek gefrusteerd met die feit dat twee van Sarie se gereelde rubrieksrywers mans is. Is dit in die Afrikaanse vrou se psige ingebrand dat die man weet wat beter is? Bestaan daar dan nie ordentlike Afrikaanse vroulike stemme nie, of wil Sarie hulle net moedswillig nie ondersteun nie? Ensovoorts, ensovoorts, het ek gekeer.


Maar toe vertel my ma van hierdie spesifieke Sarie, en 'n snaakse ding gebeur: 'n gevoel van bleek verlange en nostalgie vir dié tydskrif pak my beet, en ek vra haar om dit asseblief aan te stuur. En vanoggend, terwyl ek op die bank Sonja se verhaal lees, soetsappige woorde en wroegings ingesluit, kruip daar waragtig 'n traan oor my wang. 'n Traan, nie net vir Sonja wat harde bene moes kou nie, maar vir 'n era, 'n bekende plek – waarmee ek soms uit die hoogte gek geskeer het - wat onherroeplik verby is. Die 'glorie' van Afrikaanse musiek wat Sonja met soveel gusto verteenwoordig het, was toe nooit so blink nie. Inteendeel, dit was 'n aborsie.


En ek gaan op Sarie inteken...

Thursday 4 October 2007

Hoekom juis Skotland, huh?

Sommer.

Ek wou vanaf ek kan onthou in die buiteland woon. As tiener het ek en Ronelle, my beste vriendin, onsself ure met flieks en tydskrifstories oor die vreemde vermaak. Toe was alles van Europa beter, meer gesofistikeerd en eksoties as boring ou Suid-Afrika. Ek het Frans leer praat en musiek gaan swot met die doel voor oë om eendag oorsee te bly. Korstondige reise na Engeland, Frankryk, Duitsland en Switzerland het die lus vererger, en toe ek my man, Duan, ontmoet, was dit een van die eerste toetse wat hy moes slaag.
'Ek vrek oor jou, maar ek gaan binnekort oorsee, kom saam, asseblief?'
(En hy het, die engel, maar dis 'n ander storie)

Saam-saam het ons drie jaar gelede naby Londen opgeëindig, soos halfmiljoen ander Suid-Afrikaners. Ek het gewerk by een van daai skole waar die kinders tafels rondgooi en onderwysers vir ontbyt opvreet, (nog 'n ander storie), en maar op 'n stadium het ons besef: tot hiertoe en NIKS verder nie. Maar Skotland...hmmm, Skotland het potensiaal gehad.

Daar bestaan nie veel opsies vir Suid-Afrikaners wat in Engeland gestrand is nie. Baie gee oor en keer terug, ander hou uit en aan en tel die jare af tot die blêrrie 'indefinite leave to remain' en Britse paspoort. Ons wou nie die kosbare jare in Engeland versmaai nie, maar om langer in ons koutjie vir 'n woonstel opgeskeep te sit was ook nie meer 'n opsie nie.

En toe die lekker vakansie in Skotland...en die uitstekende werksvooruitsigte vir my en my man...en die goedkoop(er) huise...en spasie...en whiskey.

Hier sit ons nou.

Fàilte!