Sunday, 18 May 2008

My broer se wors


My broer se wors

'n Vis uit die water. Alienated. Ek probeer aan goeie beskrywings dink om die gevoel van vreemdeling-wees in 'n ander land, wat mens soms beetpak, te beskryf. Dis nie soseer dat dinge soveel anders is nie: inteendeel, hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer gepas is die uitdrukking:

Plus ça change, plus c’est la même chose

Mense se basiese behoeftes, vrese en begeertes is eintlik orals dieselfde. Die boemelaar op straat is hier net so op die rand van die samelewing as die Bergies in Kaapstad. Die rykes hier pof hulself met dieselfde uitspattighede as die Sandton-tannies in Johannesburg op. En die middelklas van Edinburgh soek ook na iets beter vir die toekoms, nes die middelklas van Bloemfontein. Die verskil is dat almal in Suid-Afrika eie aan jou was, soos niemand hier ooit jóúne gaan wees nie. Die mislukkings van die rykes, armes en middelstes (ek kan steeds nie besluit waar ek inpas nie) was in Suid Afrika ten minste bekend. Hier gaan ons altyd anders wees.

Dis hoekom my broer en sy wors so welkom is. Nee, besluit hy, hy is lus vir regte boerewors en hy gaan dit self maak. My broer is 'n Steenbok maar ek het steeds gedink hy maak 'n grap. 'n Paar dae later kom die posman met 'n pakkie aan, en dis toe 'n outydse silwer vleismeultjie. Vir wors, sê my broer, met 'n glinster in sy oog. Ons het almal Vrydagaand in die kombuis vergader terwyl die proses ontvou. Hy het my ma gebel en die Internet geraadpleeg, en die goedgegeurde vleis is met die hulp van klein handjies deur die meule. Toe word die falliese kontrapsie om die wors mee te stop, aangesit. Teen hierdie tyd ruk die vuil grappies en insinuasies amper handuit. Die worsderm – van egte vark – is tydsaam gestop en daar eindig die proses met twee borde egte boerewors.


My broer was laas so trots met die geboorte van sy tweede dogter! En Sondag is die einste wors gebraai oor die kole … ek het hard aan die knop in my keel gesluk. Dit was meer as net wors, meer as net vleis, dit was 'n greep uit die verlede wat eintlik 'n ander land is.

Friday, 28 March 2008

Klein Kelty



Ek blameer my ma, een-honderd persent. En my pa, hy is net so skuldig. Hulle het my aangemoedig om boeke te lees soos PH Nortje se “Son”-reekse, en televisieprogramme soos Koöperasie Stories te kyk (dit nadat TV-kyk nie meer sonde was nie …). Ek is verder gebreinspoel met Toujours Provence en Babette's Feast - lieflike verhale van gemeenskappe en/of families wat saamwoon in lief en leed. Aan die een kant voer die meer nugtere kant van my brein aan dat sulke sketse 'n idealistiese hopie Kilo Alfa Kilo is, maar aan die ander kant, hmmm. Soek ons elkeen nie maar na so plekkie in die klein-gemeenskappie-son nie?

In Suid-Afrika was my gevoel van behoort nie aan 'n plek verbonde nie, eerder aan sekere mense. Ek het gereeld bekendes in Exclusive Books ontmoet, was op voornaam-terme met die eienares en span kelners van Café de la Derniẽre Rose, en het op 'n stadium die koek-spyskaart van die Grapevine uit my kop geken. Maar my soeke na die outentieke gemeenskapservaring, soos gesien in Jean de Florette, het reguit na Europa gelei, en toe land ek op die ou end in Engeland. Groot fout. Êrens op die Engelse platteland is daar sekerlik dorpies weggesteek waar die mense mekaar ken en bure resepte uitruil, maar waar ons gebly het was onpersoonlik en gejaagd - net soos die stede in Suid-Afrika.

In Skotland ontdek ons toevallig die dorpie Kelty; klein, soms vuilerig, maar groot van hart en skinderstories. Oppad na die biblioteek het ek en nuwe kennisse dikwels “a wee blether” (Skots vir geselsie aanknoop). In die agtertuin word ons weekliks deur die buurman met stories oor die dorp se doen en late vermaak. Ek ken al die tannies by die winkel se gesigte en kan ook nie meer by die kerk se liefdadigheidswinkel ingaan sonder om 'n paar minute daar te staan en kuier nie. Heerlik!

So gepraat van. Dit was Sondag en ons was op soek na kondome. En in die hele Kelty kon ons nie 'n enkele kondoom in die hande kry nie! Eerstens het ek en my man gestry oor wie eintlik die plesierpakkie moes gaan koop, want ek het gevoel hý moet, hy is 'n man en dis mos wat hulle doen, is dit nie?! Op die ou end is dit ek want hy het laas keer.

Ons het aan die een kant van die dorp begin, by die beknopte winkel doer in die hoek, verste van die kerk af. Toe ek vra vir kondome het die assistent haar oë 'n paar keer geknip.

"No, we don't sell them.”

Ek was vies, want ons leef in die een-en-twintigste eeu en hoe kan mens dan nie by 'n algemene handelaar in 'n eerstewêreldland 'n sterretjie-sterretjie-sterretjie pakkie kondome koop nie? Ons is summier na die volgende, grootste algemene handelaar op die dorp. In die rak by die toiletartikels kry ek ook niks en nader ek die tannie wat toevallig daar staan en rakke afstof.

“Excuse me, do you sell condoms?” Sy was min gespin.

“Aie, but I don't know whêrrre they arrre. With all the recent chaenges everaything is lying aboot. Whêt, let me look in the office.”

Na 'n paar minute kom sy terug, nee, sorrie, ek moet agter die toonbank vra. Ek staan in die ry en toe is dit my beurt.

“Nhêxt, please.” Groot stem, die antie.

Ek leun so half vooroor. “Do you have any condoms?” fluister ek.

“Wherre arrre the condoms?” roep sy dat dit deur die hele winkel weergalm. En soos een man draai almal in die plek om en staar. Na my. Die een wat kondome koop. Ek het effens verbouereerd na die meisie langs my gekyk, en sy het lekker begin lag. Dit terwyl die tannie met die groot stem op en af agter die toonbank loop, haar stem op sy hardste volume-stelling, op soek na die kondome.

Ek is op die ou end met leë hande daar uit, bietjie verleë en baie gefrustreerd (ha-ha!). Ek dink nie iemand van my kerk was daar nie, gelukkig. Ons sal maar vir volgende week oor die Internet ons inkopies doen.

Saturday, 19 January 2008

Huise met verrassings

Ons nuwe huis, wat eintlik nie meer so nuut voel nie, het allerlei geheime. Behalwe interessante 'nooks and crannies', het die vorige eienaar ook 'n paar verrassings van sy eie hier gelaat. Soos die rioleerstelsel wat regtig suig (pun intended), kamerdeure wat nie behoorlik toegemaak kan word nie en skewe vensters. My man ly aan regmaakkoors: elke oggend as hy wakker word, sien hy iets anders wat reggemaak moet word. Ek fantaseer meestal oor hoe die plek gaan lyk nadat hyons al die veranderinge aangebring het.

Maar die huis het 'n verhaal van sy eie, hoor ons by die bure. Ding-dong, lui die klokkie een aand gedurende die vakansie, en daar staan ons twee bure. Nee, wil hulle weet, is altwee ons katte veilig en in die huis? Want daar miaau 'n kat verskriklik agter in hulle tuin, en hulle wou net kom seker maak. Ons soek die katte, maar Minerva en Vos is soos gewoonlik opgekrul op die bed, vas aan die slaap. Katte is hier en snoesig; shame vir die arme katjie buite, maar wil hulle nie inkom vir koffie nie?

Hulle kyk vir mekaar en sy trek haar neus op, ag nee dankie, hulle het pas geëet.

Wat van 'n whiskey?

Weer 'n vlugtige kyk.

“Ja, dankie, dit sal lekker wees”, en daar sit ons almal 'n rukkie later en kuier met 'n smaaklike enkelmalt in die hand. Ons kort nog net 'n kaggel.

So deur die loop van die aand vertel Sandra - 'n kurator wat besig is met haar Meestersgraad in Museumkunde - ons die huis se geskiedenis. Toe Kelty nog 'n myndorpie was, aan die einde van die 19de eeu, is huise gebou waarin 'n paar families sommer saam in een huis gewoon het. Die toilet, kombuis en waskamer was aparte geboue en ons huis was 'n klein enkelvertrek waskamertjie, en na regte moes dit nooit 'n woonhuis geword het nie. Maar dit het, skelm so deur die jare en onderdeur die radar van die dorpsraad. 'n Paar jaar gelede gaan ons buur-tannie, wie se huis reg langs ons s'n is maar aan die straat kant, op 'n lang vakansie na Amerika. Sy vra die vorige-vorige-vorige eienaar van ons woning om asseblief 'n ogie oor haar huis te hou. Hy het nie net haar woning opgepas nie, maar toe sy na 'n paar maande terugkeer, het hy die grenslyn verskuif en 'n kombuis en voorportaal aangebou. Sonder om vir haar 'n woord te sê! Die tannie het, soos te verstane, amper 'n koronêr geskiet, maar die buurman, slinkse besigheidsman wat hy is, bied haar toe £500 kompensasie aan. Nou ja, in daai tyd was dit 'n aansienlike bedrag en die voorportaal en kombuis staan vandag nog.

Vorderingsverslag van die groot omskepping: hier is die verskil wat 'n pot verf aan 'n kamer kan maak:

VOOR



NA

Wednesday, 21 November 2007

Herwaarts of derwaarts

'Slegte dinge gebeur altyd in drieë' is een van daardie klassieke gesegdes wat iemand met te veel tyd en te min verbeelding uitdink. Maar die afgelope paar weke moes ek díe stelling nogal heroorweeg. Die goed wat onlangs gebeur het was nie soseer sleg nie, maar die stres wat dit teweeggebring het, was erg. Erg genoeg dat ek begin tel het:
1. fietsongeluk,
2. trek met 'n seer rug die naweek voor ek na lang siekebed terug werk toe moet keer,
3. ekstra stres by die werk aangesien ek vir so lank weg was.

En die familie is ver, dit raak reeds om 4:30 pm donker, daar is geen goedkoop handarbeid om met die trek te help nie (ons is groot DIY-ers), en...en...en. Drie se dinges. Ten spyte van die groot opwinding van die nuwe huis, was ons lewens die afgelope tyd rof gewees.

Dit het my laat wonder of die mens regtig veronderstel is om so baie verandering in een leeftyd te ondergaan. Vyftig jaar gelede se mens het oor die algemeen slegs een beroep per leeftyd beoefen, in een of twee huise gebly, getroud met een mens, en die huidige fenomeen van wêreldreis was in sy kinderskoene. Hoe anders verklaar mens dat positiewe dinge, soos om te trou, kinders te hê en om van huis te verwissel, ook tel onder die top tien stressors in die lewe?

Vrae daar gelaat, eie aan my goeie Afrikaanse gene word ook hierdie berg oorgesteek, en sit ek vanaand met 'n glasie whiskey in my eie sitkamer. Dis knus en warm hier binne terwyl die wind buite loei, en volgens die weerburo kan ons more sneeu verwag. Sneeu! Yoohoo! Ek kom tot die gevolgtrekking dat moelike dinge in 'n boomerang met goeies vasgevang is, en vir elke drie negatiewe sinne kan 'n hele paar goeies geskryf word.

Of soos die Skotte sal sê:
“Tak the bit an the buffet”

Monday, 15 October 2007

'n Huis van jou eie

Ons (ek en my man) het uiteindelik 'n huis gekoop. Daar is niks wat my so “groot” (soos in,'as ek eendag groot is') laat voel soos hierdie dramatiese stap nie. Trou? Ag nee wat, dit was maklik. Waar om te werk? Kinderspeletjies! Maar om 'n huis te koop is om 'n stelling te maak oor wie jy is, in konkrete terme, soos min ander dinge tot dusver.

Met ons aankoms in Skotland het ons 'n reusagtige huis gehuur. Met 'n tuin, 'n lieflike uitsig oor die Forth rivier én 'n garage, vir dieselfde prys as 'n eenslaapkamerwoonstel aan die verkeerde kant van die treinspoor naby Londen. Ek sou graag in Edinburgh wou woon, maar dis goedkoper aan die hierdie kant van die rivier, en ek het van die naam Fife gehou – ek speel immers fluit.

Die huiskoopstelsel in Skotland is 'n uitgerekte en gekompliseerde affêre. Eerstens kies jy 'n huis waarvan jy hou en maak 'n aanbod daarop. Die huis se prys is óf fixed (vasgestel) óf offers over (die minimum bedrag waarvoor die huis verkoop sal word). Jou aanbod word saam met x-aantal ander mense s’n ingedien en die eienaar kies die aanbod wat hom die meeste aanstaan. Glo my, huiseienaars kies ad lib. As hy of sy nie van jou prys/gesig/nasionaliteit/bank hou nie, tough. Gedurende die tyd wat jy 'n aanbod op huis A gemaak het, mag jy nie op enige ander eiendom 'n bod maak nie, dis onwettig. En die eienaars vat soms hulle tyd om jou te laat weet of jy suksesvol is of nie. Jy kan dus nie opgewonde raak oor jou voornemende plekkie in die Skotlandse reën son nie.

Na ure se soektogte op die Internet en 'n paar verskille wat die huweliksbootjie deur
stormagtige waters gestuur het, het ons hierdie huis gekies:

Die droomhuis, met sy lieflike klipmure en oudwêreldse sjarme. Sou al die vriende en familie liederlik met só huis kon jaloers maak. Maar die droomhuisie het net-in-jou-drome huisie geword: ons aanbod is nie aanvaar nie.

Na erge kopkrappery en besoeke aan veelvuldige eiendomme (wat nie aan ons groeiende lys van vereistes voldoen het nie), het ons uiteindelik hierdie huis ontdek. Minder verruklik as die vorige een, meer prakties en alledaags. En goedkoper.

Ons aanbod, wat buitesporig hoër as die voorgestelde prys was, was ook onsuksesvol. Een of ander cowboy het amper dubbel die bedrag vir die huis aangebied as waarvoor dit in die mark was! Ons het ons stelling dat eiendom in Skotland goedkoper as in Engeland is, heroorweeg. Die gekke eiendomspryse het saam met bek-en-klouseer oor die grens getrek.

En toe, heeltemal uit die bloute, kom ons op ons huis af. En die prys is “vas”, die koper haastig, en ons aanbod word aanvaar. Halleluja! Nou het ons 'n huis, wat só lyk:


Onkonvensioneel, prakties, ruim, alleenstaande, met 'n groot tuin en baie ruimte vir verbetering. En dít is wie ons is.

Tuesday, 9 October 2007

'n Traan vir Sonja


My ma stuur onlangs vir my 'n ou (Mei 2007) uitgawe van Sarie. Op die voorblad pryk Sonja Herholdt met haar neusring en pers hare. Alhoewel Sonja 'n ikoon van Afrikaanse vrouwees is, was sy deur die jare 'n objek van bespotting met haar hygende stemmetjie en soetsappige lirieke. Haar dramatiese makeover met moderne klere en 'n CD met die titel, van alle dinge, 'Reconstructing Alice', het my en my vriendinne oor ons koffiekoppies laat grinnik. Wie kan Sonja nou ernstig opneem? Behalwe derduisende Afrikaanse dames, gemeet aan hoeveel keer sy al op voorblaaie verskyn het.

My ma wou lankal vir my op Sarie inteken, veral noudat ek vêr in die vreemde woon, maar ek wou niks weet nie. Ek bly alreeds nie voor met die tydskrifte, boeke en uitstekende koerante wat hier beskikbaar is nie. Die tipe joernalistiek in Sarie kon my in die verlede tot in die afgrond frustreer, met artikels wat handel oor mense waarin ek nie belangstel nie en 'n voorkeur vir soetsappige taalgebruik. Verder, het ek my ma nukkerig ingelig, is ek gefrusteerd met die feit dat twee van Sarie se gereelde rubrieksrywers mans is. Is dit in die Afrikaanse vrou se psige ingebrand dat die man weet wat beter is? Bestaan daar dan nie ordentlike Afrikaanse vroulike stemme nie, of wil Sarie hulle net moedswillig nie ondersteun nie? Ensovoorts, ensovoorts, het ek gekeer.


Maar toe vertel my ma van hierdie spesifieke Sarie, en 'n snaakse ding gebeur: 'n gevoel van bleek verlange en nostalgie vir dié tydskrif pak my beet, en ek vra haar om dit asseblief aan te stuur. En vanoggend, terwyl ek op die bank Sonja se verhaal lees, soetsappige woorde en wroegings ingesluit, kruip daar waragtig 'n traan oor my wang. 'n Traan, nie net vir Sonja wat harde bene moes kou nie, maar vir 'n era, 'n bekende plek – waarmee ek soms uit die hoogte gek geskeer het - wat onherroeplik verby is. Die 'glorie' van Afrikaanse musiek wat Sonja met soveel gusto verteenwoordig het, was toe nooit so blink nie. Inteendeel, dit was 'n aborsie.


En ek gaan op Sarie inteken...

Thursday, 4 October 2007

Hoekom juis Skotland, huh?

Sommer.

Ek wou vanaf ek kan onthou in die buiteland woon. As tiener het ek en Ronelle, my beste vriendin, onsself ure met flieks en tydskrifstories oor die vreemde vermaak. Toe was alles van Europa beter, meer gesofistikeerd en eksoties as boring ou Suid-Afrika. Ek het Frans leer praat en musiek gaan swot met die doel voor oë om eendag oorsee te bly. Korstondige reise na Engeland, Frankryk, Duitsland en Switzerland het die lus vererger, en toe ek my man, Duan, ontmoet, was dit een van die eerste toetse wat hy moes slaag.
'Ek vrek oor jou, maar ek gaan binnekort oorsee, kom saam, asseblief?'
(En hy het, die engel, maar dis 'n ander storie)

Saam-saam het ons drie jaar gelede naby Londen opgeëindig, soos halfmiljoen ander Suid-Afrikaners. Ek het gewerk by een van daai skole waar die kinders tafels rondgooi en onderwysers vir ontbyt opvreet, (nog 'n ander storie), en maar op 'n stadium het ons besef: tot hiertoe en NIKS verder nie. Maar Skotland...hmmm, Skotland het potensiaal gehad.

Daar bestaan nie veel opsies vir Suid-Afrikaners wat in Engeland gestrand is nie. Baie gee oor en keer terug, ander hou uit en aan en tel die jare af tot die blêrrie 'indefinite leave to remain' en Britse paspoort. Ons wou nie die kosbare jare in Engeland versmaai nie, maar om langer in ons koutjie vir 'n woonstel opgeskeep te sit was ook nie meer 'n opsie nie.

En toe die lekker vakansie in Skotland...en die uitstekende werksvooruitsigte vir my en my man...en die goedkoop(er) huise...en spasie...en whiskey.

Hier sit ons nou.

Fàilte!