Friday 28 September 2007

Nuwe begin in Skotland

Hierdie is 'n artikel wat ook op Praag se webwerf te vinde is.

'n Afrikaner in Skotland - Deel 1: Die Goeie

'Soo, where yoo from, miss? Gêrmany?
Hulle hoor onmiddellik dat ek nie 'n Skot is nie.
'No, I'm from another continent.'
'Pooland?'
‘That's the saeme continent, yoo idiot!' roep iemand anders tot almal se vermaak. Ek skud my kop en rol my oë gemaak ongeduldig en geniet die nuwe aksent.
'It's in the southern hemisphere,' gee ek hulle nog 'n leidraad.
'Mexico! Amaêrica! Austraêlia!...'
Tot iemand uiteindelik reg raai. 'Africa!'
'Well done! I'm from South Africa.'
'n Silte daal oor die klas neer en 'n outjie steek sy hand op.
'Hoe come yoo're white if yoo're from Africa?'
Op daardie oomblik het ek geweet: Skotland gaan 'n tuiste word.


Ons het aanvanklik besluit om Noord te trek as gevolg van die oorbevolking in Engeland. Dit, eerder as die hoë lewenskoste en besoedeling naby Londen, het ons gemotiveer om onsself weer eens te ontwortel. My man begeer al jare lank om in Skotland te woon, waarskynlik as gevolg van fantasieë oor die wilde Vikings en die oorvloed van enkel-malt whiskey. Na 'n kort vakansie in Edinburgh en Fife, het die skoonheid en andersheid van die omgewing my ook oorweldig en dit was nie moeilik om die finale besluit te neem nie. En hier is ons nou!

Ek het begin werk soek en moes weer van voor af goedkeuring kry om onderwys te gee. Mens sou dink my kwalifikasies en blink-nuwe Engelse onderwysregistrasie sou genoeg wees, maar nee. Die Skotte vertrou hulle bure omtrent net soveel soos 'n skaap 'n honger wolf en dus moes ek opnuut aansoek doen vir onderwysregistrasie. Enige voornemende onderwyser wat belangstel om hier te kom werk kan gerus kennis neem van die feit dat die Skotse registrasieproses soveel meer gebruikersvriendelik is as díé van Engeland, veral vir Suid-Afrikaners.

Die komplekse verhouding tussen die Engelse en Skotte is vir my as buitestaander 'n bron van vermaak - seker vergelykbaar met die gekibbel tussen die Transvalers en Kapenaars. Vandat ons ons planne om na Skotland te verhuis bekend gemaak het, het ons Engelse vriende luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee. Dit sou meer aanvaarbaar wees om na Suid-Afrika terug te keer, maar Skotland toe?!
'It's too cold there, you're crazy!'
'Uh, you know, we are from South Africa, the weather is kind of relative,' het ek probeer verduidelik.
Maar hulle het gedink ons is van lotjie getik, behalwe die enkelinge wat hou van golf en rugby. Vir hulle het die skuif min of meer sin gemaak. Een van my kollegas het my in haar deftige aksent meegedeel dat die Skotte agterlik is, maar aangesien ons van Afrika kom sou ons miskien tuis voel … A-hemmm!!! Dat ‘n opgevoede persoon so stompsinnig kan wees gaan my verstand te bowe, maar soms kan die Engelse te veel van hulself dink. (Nes die Kapenaars.)

Die meeste Engelse dink nie veel van hulle Skotse bure nie, en dit wil voorkom of die gevoel wederkerig is. Die antagonisme is geskiedkundig van aard: 'n eeu-oue stryd om land, godsdiens en rykdom, en dit ten spyte van bykans identiese genetiese oorsprong. Klink dit bekend? Om Steven Spielberg losweg aan te haal: 'Same shit, different country.'

Die mees opvallende kenmerk van die Skotte is hulle gemoedelikheid en/of sin vir humor. Nie die geforseerde jovialiteit van die Amerikaners, wat jou omhels en onmiddelik jou naam vergeet nie, maar 'n opregte belangstelling in mens as individu. Die inboorlinge is van nature gasvry en hulpvaardig. Nuuskierig ook; as buitestaander is dit lekker as iemand in jou belangstel. In die klaskamer, in die winkels en by die veearts word ek steeds uitgevra waar ek vandaan kom, van presies watter deel in Suid-Afrika, waarom ons in Skotland woon, en die vraagsteller het gewoonlik 'n eie brokkie nuus oor of perspektief op Suid-Afrika. In gesprekke van geskiedkundige en politieke aard is dit duidelik dat die Skotte en die Afrikaners baie in gemeen het: hulle het tydens die 'Highland Clearances' in die laat 18de eeu hulle eie apartheid deurleef, hulle belewenis van die inmengery en geboelie deur die Engelse, en die interne debatte en konflikte rondom godsdiens en nasionale identiteit wat vandag steeds voortduur. Raakpunte soos hierdie lei daartoe dat ons empatie met mekaar het.

Ons woon al amper vier maande hier. My Skotse aksent verbeter daagliks - volgens my kollegas - want elke dan en wan glip vreemde woorde soos 'wee' en 'aie' uit. Ons is gelukkig hier, beplan nie om na ons Moederland terug te keer nie. Hierdie unieke volk, met hulle misterieuse voorvaders en kleurvolle geskiedenis, begin wortel skiet in ons harte.


'For that is the mark of the Scots of all classes:
that he stands in an attitude towards the past
unthinkable to Englishmen, and remembers and
cherishes the memory of his forebears, good or
bad; and there burns alive in him a sense of identity
with the dead even to the twentieth generation.'

Robert Louis Stevenson

Voordat Skotland egter soos ‘n nuwe Utopia klink, sal ek in my volgende bydra ook minder aangename ervaringe deel - van spelfoute in koerante tot ongepoetste skoolseuns.

4 comments:

CORY VOIGT said...

Laat die Engelsman (in a South African sense) die eerste wees om te comment en vra 'speel hulle rugby in Skotland?" En vra tog vir Tam O'Shanter ken djy vir Klaas Geswind?

Unknown said...

Ha-ha! Rugby! Groot nuus in die personeelkamer. DIe Skotte kan rugby speel...maar nie so goed soos die SA-ners nie.

Anonymous said...

Hallo daar! Is ek nou bly om op jou site af te kom! Ek is tog so uitgehonger om met iemand te praat wat in Skotland is. Die rede, presies 'n maand terug het ons 'n terugvlug Suid-Afrika toe geneem vanaf Heathrow na twee weke se besoek. 'n Week in Londen en 'n week in Skotland!

Kom ek sê jou sommer reguit - ek is jaloers op jou! Ek wou glad nie huistoe gaan nie. As dit nie vir manlief was wat op Kaapstad Internasionaal gewag het nie - het ek beslis nie teruggekom nie!

Dis moeilik om Skotland aan mense te beskryf, maar toe ons die aand in Edinburgh stop, het dit gevoel ek stop voor my eie huis se deur! Ek kan ure aangaan, maar ek sal liewer jou blog lees en kyk hoe jy oor Skotland rave! Ek kan my net indink hoe gelukkig jy daar moet wees.

As ek ooit aan immigreer dink, is Skotland die enigste opsie!!!

Anonymous said...

top [url=http://www.c-online-casino.co.uk/]online casinos[/url] coincide the latest [url=http://www.casinolasvegass.com/]casino games[/url] free no set aside bonus at the best [url=http://www.baywatchcasino.com/]bay watch casino
[/url].