Monday, 15 October 2007

'n Huis van jou eie

Ons (ek en my man) het uiteindelik 'n huis gekoop. Daar is niks wat my so “groot” (soos in,'as ek eendag groot is') laat voel soos hierdie dramatiese stap nie. Trou? Ag nee wat, dit was maklik. Waar om te werk? Kinderspeletjies! Maar om 'n huis te koop is om 'n stelling te maak oor wie jy is, in konkrete terme, soos min ander dinge tot dusver.

Met ons aankoms in Skotland het ons 'n reusagtige huis gehuur. Met 'n tuin, 'n lieflike uitsig oor die Forth rivier én 'n garage, vir dieselfde prys as 'n eenslaapkamerwoonstel aan die verkeerde kant van die treinspoor naby Londen. Ek sou graag in Edinburgh wou woon, maar dis goedkoper aan die hierdie kant van die rivier, en ek het van die naam Fife gehou – ek speel immers fluit.

Die huiskoopstelsel in Skotland is 'n uitgerekte en gekompliseerde affêre. Eerstens kies jy 'n huis waarvan jy hou en maak 'n aanbod daarop. Die huis se prys is óf fixed (vasgestel) óf offers over (die minimum bedrag waarvoor die huis verkoop sal word). Jou aanbod word saam met x-aantal ander mense s’n ingedien en die eienaar kies die aanbod wat hom die meeste aanstaan. Glo my, huiseienaars kies ad lib. As hy of sy nie van jou prys/gesig/nasionaliteit/bank hou nie, tough. Gedurende die tyd wat jy 'n aanbod op huis A gemaak het, mag jy nie op enige ander eiendom 'n bod maak nie, dis onwettig. En die eienaars vat soms hulle tyd om jou te laat weet of jy suksesvol is of nie. Jy kan dus nie opgewonde raak oor jou voornemende plekkie in die Skotlandse reën son nie.

Na ure se soektogte op die Internet en 'n paar verskille wat die huweliksbootjie deur
stormagtige waters gestuur het, het ons hierdie huis gekies:

Die droomhuis, met sy lieflike klipmure en oudwêreldse sjarme. Sou al die vriende en familie liederlik met só huis kon jaloers maak. Maar die droomhuisie het net-in-jou-drome huisie geword: ons aanbod is nie aanvaar nie.

Na erge kopkrappery en besoeke aan veelvuldige eiendomme (wat nie aan ons groeiende lys van vereistes voldoen het nie), het ons uiteindelik hierdie huis ontdek. Minder verruklik as die vorige een, meer prakties en alledaags. En goedkoper.

Ons aanbod, wat buitesporig hoër as die voorgestelde prys was, was ook onsuksesvol. Een of ander cowboy het amper dubbel die bedrag vir die huis aangebied as waarvoor dit in die mark was! Ons het ons stelling dat eiendom in Skotland goedkoper as in Engeland is, heroorweeg. Die gekke eiendomspryse het saam met bek-en-klouseer oor die grens getrek.

En toe, heeltemal uit die bloute, kom ons op ons huis af. En die prys is “vas”, die koper haastig, en ons aanbod word aanvaar. Halleluja! Nou het ons 'n huis, wat só lyk:


Onkonvensioneel, prakties, ruim, alleenstaande, met 'n groot tuin en baie ruimte vir verbetering. En dít is wie ons is.

9 comments:

Anonymous said...

Geluk! Hoop julle gaan lank en gelukkig in jul eie huisie woon. Sterkte met die trekkery en laat weet wanneer julle dak natmaak ...
cd

Anonymous said...

Oulike plek,verduidelik net waars voor en agter.Dolf

sonkind said...

Ek HOU van julle huis. al was die kliphuis so klein bietjie interessanter!

Lekker bly!

right said reverend said...

Baie geluk. Ons het ook onlangs 'n huis gekoop. Wel, 'n jaar gelede. Ons is ook nou. Maar met die stygende rentekoerse is ons paradysie besig om so bietjie warmer te word as wat ons kan handle.

Dankie vir die verwysing na my blog. Dis lekker om op hierdie manier op genotvolle blogs soos joune af te kom. Genotvol soos in stylvol. Ek's mal vir woorde, taal. Dit teken prentjies. Ek sien iets van mense se karakter daarin. Jou prentjie het regtig baie karakter.

André Ferero said...

Baie geluk Maretha. Ja, soos jy genoem het, dis regtig great om mens se eie plek te hê, al lyk dit miskien nie presies soos die prentjie van die huis wat jy al vir jare in jou eie verbeelding geskets het nie. Geniet die intrekkery, gate boor in julle eie huis se mure, die plek julle eie kleur(e) verf, ja, dit werklik jou eie space maak.
André

René Boshoff said...

Ons het kort voor ons troue (nou amper twee jaar terug) - my droomhuis gekoop! Die huis is ongeveer 60 jaar oud, met groot vertrekke, staal-patroon-plafonne en 'n moerse fontein tussen die voorhek en die groot ronde rooi voorstoep! Ek is nou nog in die wolke oor my nessie en dis so lekker om jou karakter daarin af te druk! Ek kan nie wag dat die piekvoetjies in die houtvloer gange moet rondtrippel nie! Geniet elke oomblik daarvan, dis JOUNE en jy kan maak soos jy smaak!!

Boendoe said...

Ag, hoe word ek nou oorval deur 'n onverklaarbare heimwee! Het met 'n gelukskoot jou blog ontdek en dit baie geniet! Ek was vir 12 jaar met 'n Skot getroud, en ek kan net met jou saamstem. Die Skotte is die sout van die aarde.Sien uit na jou volgende posting!

johannes coetzee said...

hallo

Mag God jou ryklik seen.

www.familyradio.com kan dalk vir jou netso baie beteken as wat dit vir my beteken.

johannes coetzee

attie said...

Ek hoop julle huisie is 'n huisie van wonderlike geluk en vrede.