Saturday 7 August 2010

Braai

Wat mens in Skotland nodig het om 'n suksesvolle braai te hou:

  1. Kies 'n dag wat die weerburo voorspel gaan nat en koud wees, want hulle is meestal eweredig omgekeerd verkeerd en daai dag mag die son dalk skyn.  Sonskyn en bietjie wind is die best-case scenario.  Acceptable-case scenario is geen reën en bietjie wind. 
  2. Besit verkieslik 'n beskutte gazebo of 'n konserwatorium waarin jou gaste kan skuil in geval van die worst-case scenario, naamlik reën, koue en wind.  Moenie jou laat flous deur 'n sonnige begin nie, dit verander in 'n oogwink.
  3. Maak seker jou braaiarea is beskut teen slegte weer.  En dat genoemde area voldoen aan jou council se huidige reëls aangaande braai.  Laat ook jou bure weet dat jy later as 9 pm gaan raas, maar in ons dorp met sy bogemiddelde kwota fietas kan jy sommer oor die heining skree as dinge te erg raak.
  4. Hou 'n kamer in die huis beskikbaar met 'n dvd speler of 'n magdom PS3 speletjies vir die kinders, net ingeval.
  5. Koop jou vleis by Aldi, hulle braaireekse is smaaklik en goedkoop.  As jy boerewors wil bestel, gaan na die slagter op Kinross of vra my broer.  
  6. Maak seker jy koop regte braaikole lank voor die tyd, want as die eerste Somerbloeisels hul skugter verskyning maak, hou elke Skot, sy neef en neef se hond 'n barbie en word die kole uitverkoop.
Laasweek word ek en my familie genooi na 'n braai hier op ons dorp.  Ons vriende, David en Janet, is van daai rare tipes met 'n sosiale gewete gebaseer op 'n opregte, onverklaarbare liefde vir hul medemens.  Hulle het so paar jaar gelede begin om al hulle bure te nooi vir etes en speletjies, en dis 'n jaarlikse sukses.  Ons is hierdie keer genooi, helaas nie omdat ons ook in die ryker beter deel van Kelty bly nie,  ook nie oor my verbysterende vermoëns as roundersspeler nie, maar omdat hulle nuwe bure Suid-Afrikaners is.  Waaaaaaaat?!!  Hier in ons dorp?  Regte-egte Suid-Afrikaners?!  Wowza!  Ons het 'n paar honde uit 'n bos gekuier, in Afrikaans, en ek en baba het intussen by hulle gaan kuier, pannekoek ingesluit.
En as die weer dit toelaat sal ons binnekort 'n braai hou.

2 comments:

Anonymous said...

Ek is so bly jy blog weer! Hou aan, ons geniet jou stories.
cd

Anonymous said...

Genial fill someone in on and this mail helped me alot in my college assignement. Thank you as your information.