Thursday 4 October 2007

Hoekom juis Skotland, huh?

Sommer.

Ek wou vanaf ek kan onthou in die buiteland woon. As tiener het ek en Ronelle, my beste vriendin, onsself ure met flieks en tydskrifstories oor die vreemde vermaak. Toe was alles van Europa beter, meer gesofistikeerd en eksoties as boring ou Suid-Afrika. Ek het Frans leer praat en musiek gaan swot met die doel voor oë om eendag oorsee te bly. Korstondige reise na Engeland, Frankryk, Duitsland en Switzerland het die lus vererger, en toe ek my man, Duan, ontmoet, was dit een van die eerste toetse wat hy moes slaag.
'Ek vrek oor jou, maar ek gaan binnekort oorsee, kom saam, asseblief?'
(En hy het, die engel, maar dis 'n ander storie)

Saam-saam het ons drie jaar gelede naby Londen opgeëindig, soos halfmiljoen ander Suid-Afrikaners. Ek het gewerk by een van daai skole waar die kinders tafels rondgooi en onderwysers vir ontbyt opvreet, (nog 'n ander storie), en maar op 'n stadium het ons besef: tot hiertoe en NIKS verder nie. Maar Skotland...hmmm, Skotland het potensiaal gehad.

Daar bestaan nie veel opsies vir Suid-Afrikaners wat in Engeland gestrand is nie. Baie gee oor en keer terug, ander hou uit en aan en tel die jare af tot die blêrrie 'indefinite leave to remain' en Britse paspoort. Ons wou nie die kosbare jare in Engeland versmaai nie, maar om langer in ons koutjie vir 'n woonstel opgeskeep te sit was ook nie meer 'n opsie nie.

En toe die lekker vakansie in Skotland...en die uitstekende werksvooruitsigte vir my en my man...en die goedkoop(er) huise...en spasie...en whiskey.

Hier sit ons nou.

Fàilte!

2 comments:

Anonymous said...

Mmmm, Retha kán ...! Vermy net die anglisismes of kry 'n proefleser/taalversorger, alle skrywers het so iemand. Ek sit hier met 'n bakkie boontjiesop - net om jou lus te maak! Liefde! cd

Anonymous said...

Dis my man se droom om eendag in Skotland te gaan bly. Vanaand wys ek hom jou blog...