Saturday, 19 January 2008

Huise met verrassings

Ons nuwe huis, wat eintlik nie meer so nuut voel nie, het allerlei geheime. Behalwe interessante 'nooks and crannies', het die vorige eienaar ook 'n paar verrassings van sy eie hier gelaat. Soos die rioleerstelsel wat regtig suig (pun intended), kamerdeure wat nie behoorlik toegemaak kan word nie en skewe vensters. My man ly aan regmaakkoors: elke oggend as hy wakker word, sien hy iets anders wat reggemaak moet word. Ek fantaseer meestal oor hoe die plek gaan lyk nadat hyons al die veranderinge aangebring het.

Maar die huis het 'n verhaal van sy eie, hoor ons by die bure. Ding-dong, lui die klokkie een aand gedurende die vakansie, en daar staan ons twee bure. Nee, wil hulle weet, is altwee ons katte veilig en in die huis? Want daar miaau 'n kat verskriklik agter in hulle tuin, en hulle wou net kom seker maak. Ons soek die katte, maar Minerva en Vos is soos gewoonlik opgekrul op die bed, vas aan die slaap. Katte is hier en snoesig; shame vir die arme katjie buite, maar wil hulle nie inkom vir koffie nie?

Hulle kyk vir mekaar en sy trek haar neus op, ag nee dankie, hulle het pas geëet.

Wat van 'n whiskey?

Weer 'n vlugtige kyk.

“Ja, dankie, dit sal lekker wees”, en daar sit ons almal 'n rukkie later en kuier met 'n smaaklike enkelmalt in die hand. Ons kort nog net 'n kaggel.

So deur die loop van die aand vertel Sandra - 'n kurator wat besig is met haar Meestersgraad in Museumkunde - ons die huis se geskiedenis. Toe Kelty nog 'n myndorpie was, aan die einde van die 19de eeu, is huise gebou waarin 'n paar families sommer saam in een huis gewoon het. Die toilet, kombuis en waskamer was aparte geboue en ons huis was 'n klein enkelvertrek waskamertjie, en na regte moes dit nooit 'n woonhuis geword het nie. Maar dit het, skelm so deur die jare en onderdeur die radar van die dorpsraad. 'n Paar jaar gelede gaan ons buur-tannie, wie se huis reg langs ons s'n is maar aan die straat kant, op 'n lang vakansie na Amerika. Sy vra die vorige-vorige-vorige eienaar van ons woning om asseblief 'n ogie oor haar huis te hou. Hy het nie net haar woning opgepas nie, maar toe sy na 'n paar maande terugkeer, het hy die grenslyn verskuif en 'n kombuis en voorportaal aangebou. Sonder om vir haar 'n woord te sê! Die tannie het, soos te verstane, amper 'n koronêr geskiet, maar die buurman, slinkse besigheidsman wat hy is, bied haar toe £500 kompensasie aan. Nou ja, in daai tyd was dit 'n aansienlike bedrag en die voorportaal en kombuis staan vandag nog.

Vorderingsverslag van die groot omskepping: hier is die verskil wat 'n pot verf aan 'n kamer kan maak:

VOOR



NA

4 comments:

Pienk Zuit said...

Sal daai enkelmout nie eerder whisky wees nie? ;) Trek net jou been eintlik, jy weet natuurlik skotse mout is sonder die ¨e¨.

Jasper said...

Die uitsig lyk darm lekker. Hoop nie jou manlief timmer 'n vinger met die hamer raak nie... :)

narrator said...

welkom in skotland. ons woon in nederland, maar geniet die europese klimaat. ek het via sonkind se blog hier uit gekom. klink asof julle dit baie geniet.

duan said...

Die son skyn nou al sonder ophou vir dae en dae, en miskien werk glabal warming tog net in ons almal se guns. RSA kry meer reen en skotland meer son.

Na aanleiding van hoe krom die baksteen muur onder gebou is dink ek ek het nou al genoeg verassings gehad hier!