Friday, 28 March 2008

Klein Kelty



Ek blameer my ma, een-honderd persent. En my pa, hy is net so skuldig. Hulle het my aangemoedig om boeke te lees soos PH Nortje se “Son”-reekse, en televisieprogramme soos Koöperasie Stories te kyk (dit nadat TV-kyk nie meer sonde was nie …). Ek is verder gebreinspoel met Toujours Provence en Babette's Feast - lieflike verhale van gemeenskappe en/of families wat saamwoon in lief en leed. Aan die een kant voer die meer nugtere kant van my brein aan dat sulke sketse 'n idealistiese hopie Kilo Alfa Kilo is, maar aan die ander kant, hmmm. Soek ons elkeen nie maar na so plekkie in die klein-gemeenskappie-son nie?

In Suid-Afrika was my gevoel van behoort nie aan 'n plek verbonde nie, eerder aan sekere mense. Ek het gereeld bekendes in Exclusive Books ontmoet, was op voornaam-terme met die eienares en span kelners van Café de la Derniẽre Rose, en het op 'n stadium die koek-spyskaart van die Grapevine uit my kop geken. Maar my soeke na die outentieke gemeenskapservaring, soos gesien in Jean de Florette, het reguit na Europa gelei, en toe land ek op die ou end in Engeland. Groot fout. Êrens op die Engelse platteland is daar sekerlik dorpies weggesteek waar die mense mekaar ken en bure resepte uitruil, maar waar ons gebly het was onpersoonlik en gejaagd - net soos die stede in Suid-Afrika.

In Skotland ontdek ons toevallig die dorpie Kelty; klein, soms vuilerig, maar groot van hart en skinderstories. Oppad na die biblioteek het ek en nuwe kennisse dikwels “a wee blether” (Skots vir geselsie aanknoop). In die agtertuin word ons weekliks deur die buurman met stories oor die dorp se doen en late vermaak. Ek ken al die tannies by die winkel se gesigte en kan ook nie meer by die kerk se liefdadigheidswinkel ingaan sonder om 'n paar minute daar te staan en kuier nie. Heerlik!

So gepraat van. Dit was Sondag en ons was op soek na kondome. En in die hele Kelty kon ons nie 'n enkele kondoom in die hande kry nie! Eerstens het ek en my man gestry oor wie eintlik die plesierpakkie moes gaan koop, want ek het gevoel hý moet, hy is 'n man en dis mos wat hulle doen, is dit nie?! Op die ou end is dit ek want hy het laas keer.

Ons het aan die een kant van die dorp begin, by die beknopte winkel doer in die hoek, verste van die kerk af. Toe ek vra vir kondome het die assistent haar oë 'n paar keer geknip.

"No, we don't sell them.”

Ek was vies, want ons leef in die een-en-twintigste eeu en hoe kan mens dan nie by 'n algemene handelaar in 'n eerstewêreldland 'n sterretjie-sterretjie-sterretjie pakkie kondome koop nie? Ons is summier na die volgende, grootste algemene handelaar op die dorp. In die rak by die toiletartikels kry ek ook niks en nader ek die tannie wat toevallig daar staan en rakke afstof.

“Excuse me, do you sell condoms?” Sy was min gespin.

“Aie, but I don't know whêrrre they arrre. With all the recent chaenges everaything is lying aboot. Whêt, let me look in the office.”

Na 'n paar minute kom sy terug, nee, sorrie, ek moet agter die toonbank vra. Ek staan in die ry en toe is dit my beurt.

“Nhêxt, please.” Groot stem, die antie.

Ek leun so half vooroor. “Do you have any condoms?” fluister ek.

“Wherre arrre the condoms?” roep sy dat dit deur die hele winkel weergalm. En soos een man draai almal in die plek om en staar. Na my. Die een wat kondome koop. Ek het effens verbouereerd na die meisie langs my gekyk, en sy het lekker begin lag. Dit terwyl die tannie met die groot stem op en af agter die toonbank loop, haar stem op sy hardste volume-stelling, op soek na die kondome.

Ek is op die ou end met leë hande daar uit, bietjie verleë en baie gefrustreerd (ha-ha!). Ek dink nie iemand van my kerk was daar nie, gelukkig. Ons sal maar vir volgende week oor die Internet ons inkopies doen.

7 comments:

sonkind said...

:lol: Ek het jou kondoom-storie baie geniet. Wens ek kan ook op so 'n klein dorpie gaan bly, maar verkieslik hier in Suid-Afrika.

Ek het op so 'n plek grootgeword, maar vandag is niks meer dieselfde nie.

Rhynie Greeff said...

Oulike storie. Dit herinner my aan Krisjan Fourie se Afrikaners-is-Plesierig reeks kondome wat tot onlangs nog op die mark in Suid-Afrika was. Ek dink nie die goed is meer op die mark nie want in SA is kondome mos nou gratis terwyl supermarkte se plastieksakke jou nou geld kos.

Muriel said...

Lekker gelees!!! LOL

Eurika said...

haha, dit het my laat dink aan ons hier in die 'Maagde' eilande wat die dame by K-mart moet vra om die glas kassie oop te sluit om die pakkie kondome te kry.
Hulle dink seker almal hier is rerig 'maagde'
jy't my lekker laat smile...

Petunia said...

Well written article.

Snot Block said...

Ek het nou lekker gelag. My ma bly in Howick, nog 'n vreeslike klein dorpie - ek dink nie sy het ooit 'n ander Suid-Afrikaner in Skotland ontmoet nie.
Ek het 'n Skotse vriendin hier in Aus en ek ontmoet baie Skotse mense - goeie mense. Sy't my oortuig - ek wil nou gaan kyk hoe lyk dit daar.
Mauritz

Mariana said...

Ek het deur Sonkind op jou blog beland. Weet nie hoe het sy op myne beland nie - het 'n post gedoen oor die mooiste rugbyspeler in die wêreld:nl Bobby Skinstad en toe comment sy daarop. Toe ek op haar blog lees vang my oog toe dat jy PH Nortje se Son boeke gelees het. Is dit nie die mooiste boeke nie? Ek het onlangs vir my sy bundel versamelde werke "Op 'n hoë noot" saamgevat deur Danie Botha aangeskaf. En in die voorwoord gelees dat hy al 88 is en sy vrou is onlangs oorlede. Sover ek weet het hulle in 'n aftree-oord in Strand gebly. Dit het my so hartseer gemaak om te lees van haar dood....en dat hy nou alleen is. Dit voel soos 'n familielid wat dood is - so goed het hy haar en hul alledaagse lewe beskryf. Ek is nou besig om al sy boeke te versamel. Ek kort nog so 2 of 3.