Sunday 18 May 2008

My broer se wors


My broer se wors

'n Vis uit die water. Alienated. Ek probeer aan goeie beskrywings dink om die gevoel van vreemdeling-wees in 'n ander land, wat mens soms beetpak, te beskryf. Dis nie soseer dat dinge soveel anders is nie: inteendeel, hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer gepas is die uitdrukking:

Plus ça change, plus c’est la même chose

Mense se basiese behoeftes, vrese en begeertes is eintlik orals dieselfde. Die boemelaar op straat is hier net so op die rand van die samelewing as die Bergies in Kaapstad. Die rykes hier pof hulself met dieselfde uitspattighede as die Sandton-tannies in Johannesburg op. En die middelklas van Edinburgh soek ook na iets beter vir die toekoms, nes die middelklas van Bloemfontein. Die verskil is dat almal in Suid-Afrika eie aan jou was, soos niemand hier ooit jóúne gaan wees nie. Die mislukkings van die rykes, armes en middelstes (ek kan steeds nie besluit waar ek inpas nie) was in Suid Afrika ten minste bekend. Hier gaan ons altyd anders wees.

Dis hoekom my broer en sy wors so welkom is. Nee, besluit hy, hy is lus vir regte boerewors en hy gaan dit self maak. My broer is 'n Steenbok maar ek het steeds gedink hy maak 'n grap. 'n Paar dae later kom die posman met 'n pakkie aan, en dis toe 'n outydse silwer vleismeultjie. Vir wors, sê my broer, met 'n glinster in sy oog. Ons het almal Vrydagaand in die kombuis vergader terwyl die proses ontvou. Hy het my ma gebel en die Internet geraadpleeg, en die goedgegeurde vleis is met die hulp van klein handjies deur die meule. Toe word die falliese kontrapsie om die wors mee te stop, aangesit. Teen hierdie tyd ruk die vuil grappies en insinuasies amper handuit. Die worsderm – van egte vark – is tydsaam gestop en daar eindig die proses met twee borde egte boerewors.


My broer was laas so trots met die geboorte van sy tweede dogter! En Sondag is die einste wors gebraai oor die kole … ek het hard aan die knop in my keel gesluk. Dit was meer as net wors, meer as net vleis, dit was 'n greep uit die verlede wat eintlik 'n ander land is.

4 comments:

Anonymous said...

Waar ons ook al gaan, waar ons ook al swerf

'n Suid-Afrikaner is maar net tuis op eie werf.

Anonymous said...

Ek sluk nou ook swaar aan die knop in my keel. Hoop die wors was heerlik.

Anonymous said...

So waar, sonkind, so waar...

Ekskuus, afrikaansinskotland, maar ek kon nie help om dit op te merk nie. Skotland is darem wraggies voor - tydsgewys ek meen. Dink net, julle beleef al Mei-maand :-)

Paula said...

Mooi man! Geniet 'n stukkie afrika daar in die verte :)