Wednesday 21 November 2007

Herwaarts of derwaarts

'Slegte dinge gebeur altyd in drieë' is een van daardie klassieke gesegdes wat iemand met te veel tyd en te min verbeelding uitdink. Maar die afgelope paar weke moes ek díe stelling nogal heroorweeg. Die goed wat onlangs gebeur het was nie soseer sleg nie, maar die stres wat dit teweeggebring het, was erg. Erg genoeg dat ek begin tel het:
1. fietsongeluk,
2. trek met 'n seer rug die naweek voor ek na lang siekebed terug werk toe moet keer,
3. ekstra stres by die werk aangesien ek vir so lank weg was.

En die familie is ver, dit raak reeds om 4:30 pm donker, daar is geen goedkoop handarbeid om met die trek te help nie (ons is groot DIY-ers), en...en...en. Drie se dinges. Ten spyte van die groot opwinding van die nuwe huis, was ons lewens die afgelope tyd rof gewees.

Dit het my laat wonder of die mens regtig veronderstel is om so baie verandering in een leeftyd te ondergaan. Vyftig jaar gelede se mens het oor die algemeen slegs een beroep per leeftyd beoefen, in een of twee huise gebly, getroud met een mens, en die huidige fenomeen van wêreldreis was in sy kinderskoene. Hoe anders verklaar mens dat positiewe dinge, soos om te trou, kinders te hê en om van huis te verwissel, ook tel onder die top tien stressors in die lewe?

Vrae daar gelaat, eie aan my goeie Afrikaanse gene word ook hierdie berg oorgesteek, en sit ek vanaand met 'n glasie whiskey in my eie sitkamer. Dis knus en warm hier binne terwyl die wind buite loei, en volgens die weerburo kan ons more sneeu verwag. Sneeu! Yoohoo! Ek kom tot die gevolgtrekking dat moelike dinge in 'n boomerang met goeies vasgevang is, en vir elke drie negatiewe sinne kan 'n hele paar goeies geskryf word.

Of soos die Skotte sal sê:
“Tak the bit an the buffet”

5 comments:

Rhynie Greeff said...

Hi, Dankie vir die skakel. Ek doen gou dieselfde vir jou hier in my Blok. Groete. Rhynie

Anonymous said...

Of soos hulle ook sê, elke donker wolk het 'n silwer randjie! Dis 'n erkende feit dat om te verhuis, naas die dood van 'n geliefde en egskeiding, ook tel as een van die grootste traumas in mens se lewe. Gelukkig stam ons van mense af wat kaalvoet oor die Drakensberg getrek het - "so to speak". Geniet jou nuwe huis!

Anonymous said...

Ek sien jy was baie lanklaas op jou blog. WOnder hoe gaan dit in jou nuwe huis en met die sneeu en by die werk.

Anonymous said...

Hoop daar was al intussen 'n dak-nat-maak party. ;-)

Anonymous said...

Wonder nou of dit toe gesneeu het die volgende dag?