Wednesday 21 November 2007

Herwaarts of derwaarts

'Slegte dinge gebeur altyd in drieë' is een van daardie klassieke gesegdes wat iemand met te veel tyd en te min verbeelding uitdink. Maar die afgelope paar weke moes ek díe stelling nogal heroorweeg. Die goed wat onlangs gebeur het was nie soseer sleg nie, maar die stres wat dit teweeggebring het, was erg. Erg genoeg dat ek begin tel het:
1. fietsongeluk,
2. trek met 'n seer rug die naweek voor ek na lang siekebed terug werk toe moet keer,
3. ekstra stres by die werk aangesien ek vir so lank weg was.

En die familie is ver, dit raak reeds om 4:30 pm donker, daar is geen goedkoop handarbeid om met die trek te help nie (ons is groot DIY-ers), en...en...en. Drie se dinges. Ten spyte van die groot opwinding van die nuwe huis, was ons lewens die afgelope tyd rof gewees.

Dit het my laat wonder of die mens regtig veronderstel is om so baie verandering in een leeftyd te ondergaan. Vyftig jaar gelede se mens het oor die algemeen slegs een beroep per leeftyd beoefen, in een of twee huise gebly, getroud met een mens, en die huidige fenomeen van wêreldreis was in sy kinderskoene. Hoe anders verklaar mens dat positiewe dinge, soos om te trou, kinders te hê en om van huis te verwissel, ook tel onder die top tien stressors in die lewe?

Vrae daar gelaat, eie aan my goeie Afrikaanse gene word ook hierdie berg oorgesteek, en sit ek vanaand met 'n glasie whiskey in my eie sitkamer. Dis knus en warm hier binne terwyl die wind buite loei, en volgens die weerburo kan ons more sneeu verwag. Sneeu! Yoohoo! Ek kom tot die gevolgtrekking dat moelike dinge in 'n boomerang met goeies vasgevang is, en vir elke drie negatiewe sinne kan 'n hele paar goeies geskryf word.

Of soos die Skotte sal sê:
“Tak the bit an the buffet”

Monday 15 October 2007

'n Huis van jou eie

Ons (ek en my man) het uiteindelik 'n huis gekoop. Daar is niks wat my so “groot” (soos in,'as ek eendag groot is') laat voel soos hierdie dramatiese stap nie. Trou? Ag nee wat, dit was maklik. Waar om te werk? Kinderspeletjies! Maar om 'n huis te koop is om 'n stelling te maak oor wie jy is, in konkrete terme, soos min ander dinge tot dusver.

Met ons aankoms in Skotland het ons 'n reusagtige huis gehuur. Met 'n tuin, 'n lieflike uitsig oor die Forth rivier én 'n garage, vir dieselfde prys as 'n eenslaapkamerwoonstel aan die verkeerde kant van die treinspoor naby Londen. Ek sou graag in Edinburgh wou woon, maar dis goedkoper aan die hierdie kant van die rivier, en ek het van die naam Fife gehou – ek speel immers fluit.

Die huiskoopstelsel in Skotland is 'n uitgerekte en gekompliseerde affêre. Eerstens kies jy 'n huis waarvan jy hou en maak 'n aanbod daarop. Die huis se prys is óf fixed (vasgestel) óf offers over (die minimum bedrag waarvoor die huis verkoop sal word). Jou aanbod word saam met x-aantal ander mense s’n ingedien en die eienaar kies die aanbod wat hom die meeste aanstaan. Glo my, huiseienaars kies ad lib. As hy of sy nie van jou prys/gesig/nasionaliteit/bank hou nie, tough. Gedurende die tyd wat jy 'n aanbod op huis A gemaak het, mag jy nie op enige ander eiendom 'n bod maak nie, dis onwettig. En die eienaars vat soms hulle tyd om jou te laat weet of jy suksesvol is of nie. Jy kan dus nie opgewonde raak oor jou voornemende plekkie in die Skotlandse reën son nie.

Na ure se soektogte op die Internet en 'n paar verskille wat die huweliksbootjie deur
stormagtige waters gestuur het, het ons hierdie huis gekies:

Die droomhuis, met sy lieflike klipmure en oudwêreldse sjarme. Sou al die vriende en familie liederlik met só huis kon jaloers maak. Maar die droomhuisie het net-in-jou-drome huisie geword: ons aanbod is nie aanvaar nie.

Na erge kopkrappery en besoeke aan veelvuldige eiendomme (wat nie aan ons groeiende lys van vereistes voldoen het nie), het ons uiteindelik hierdie huis ontdek. Minder verruklik as die vorige een, meer prakties en alledaags. En goedkoper.

Ons aanbod, wat buitesporig hoër as die voorgestelde prys was, was ook onsuksesvol. Een of ander cowboy het amper dubbel die bedrag vir die huis aangebied as waarvoor dit in die mark was! Ons het ons stelling dat eiendom in Skotland goedkoper as in Engeland is, heroorweeg. Die gekke eiendomspryse het saam met bek-en-klouseer oor die grens getrek.

En toe, heeltemal uit die bloute, kom ons op ons huis af. En die prys is “vas”, die koper haastig, en ons aanbod word aanvaar. Halleluja! Nou het ons 'n huis, wat só lyk:


Onkonvensioneel, prakties, ruim, alleenstaande, met 'n groot tuin en baie ruimte vir verbetering. En dít is wie ons is.

Tuesday 9 October 2007

'n Traan vir Sonja


My ma stuur onlangs vir my 'n ou (Mei 2007) uitgawe van Sarie. Op die voorblad pryk Sonja Herholdt met haar neusring en pers hare. Alhoewel Sonja 'n ikoon van Afrikaanse vrouwees is, was sy deur die jare 'n objek van bespotting met haar hygende stemmetjie en soetsappige lirieke. Haar dramatiese makeover met moderne klere en 'n CD met die titel, van alle dinge, 'Reconstructing Alice', het my en my vriendinne oor ons koffiekoppies laat grinnik. Wie kan Sonja nou ernstig opneem? Behalwe derduisende Afrikaanse dames, gemeet aan hoeveel keer sy al op voorblaaie verskyn het.

My ma wou lankal vir my op Sarie inteken, veral noudat ek vêr in die vreemde woon, maar ek wou niks weet nie. Ek bly alreeds nie voor met die tydskrifte, boeke en uitstekende koerante wat hier beskikbaar is nie. Die tipe joernalistiek in Sarie kon my in die verlede tot in die afgrond frustreer, met artikels wat handel oor mense waarin ek nie belangstel nie en 'n voorkeur vir soetsappige taalgebruik. Verder, het ek my ma nukkerig ingelig, is ek gefrusteerd met die feit dat twee van Sarie se gereelde rubrieksrywers mans is. Is dit in die Afrikaanse vrou se psige ingebrand dat die man weet wat beter is? Bestaan daar dan nie ordentlike Afrikaanse vroulike stemme nie, of wil Sarie hulle net moedswillig nie ondersteun nie? Ensovoorts, ensovoorts, het ek gekeer.


Maar toe vertel my ma van hierdie spesifieke Sarie, en 'n snaakse ding gebeur: 'n gevoel van bleek verlange en nostalgie vir dié tydskrif pak my beet, en ek vra haar om dit asseblief aan te stuur. En vanoggend, terwyl ek op die bank Sonja se verhaal lees, soetsappige woorde en wroegings ingesluit, kruip daar waragtig 'n traan oor my wang. 'n Traan, nie net vir Sonja wat harde bene moes kou nie, maar vir 'n era, 'n bekende plek – waarmee ek soms uit die hoogte gek geskeer het - wat onherroeplik verby is. Die 'glorie' van Afrikaanse musiek wat Sonja met soveel gusto verteenwoordig het, was toe nooit so blink nie. Inteendeel, dit was 'n aborsie.


En ek gaan op Sarie inteken...

Thursday 4 October 2007

Hoekom juis Skotland, huh?

Sommer.

Ek wou vanaf ek kan onthou in die buiteland woon. As tiener het ek en Ronelle, my beste vriendin, onsself ure met flieks en tydskrifstories oor die vreemde vermaak. Toe was alles van Europa beter, meer gesofistikeerd en eksoties as boring ou Suid-Afrika. Ek het Frans leer praat en musiek gaan swot met die doel voor oë om eendag oorsee te bly. Korstondige reise na Engeland, Frankryk, Duitsland en Switzerland het die lus vererger, en toe ek my man, Duan, ontmoet, was dit een van die eerste toetse wat hy moes slaag.
'Ek vrek oor jou, maar ek gaan binnekort oorsee, kom saam, asseblief?'
(En hy het, die engel, maar dis 'n ander storie)

Saam-saam het ons drie jaar gelede naby Londen opgeëindig, soos halfmiljoen ander Suid-Afrikaners. Ek het gewerk by een van daai skole waar die kinders tafels rondgooi en onderwysers vir ontbyt opvreet, (nog 'n ander storie), en maar op 'n stadium het ons besef: tot hiertoe en NIKS verder nie. Maar Skotland...hmmm, Skotland het potensiaal gehad.

Daar bestaan nie veel opsies vir Suid-Afrikaners wat in Engeland gestrand is nie. Baie gee oor en keer terug, ander hou uit en aan en tel die jare af tot die blêrrie 'indefinite leave to remain' en Britse paspoort. Ons wou nie die kosbare jare in Engeland versmaai nie, maar om langer in ons koutjie vir 'n woonstel opgeskeep te sit was ook nie meer 'n opsie nie.

En toe die lekker vakansie in Skotland...en die uitstekende werksvooruitsigte vir my en my man...en die goedkoop(er) huise...en spasie...en whiskey.

Hier sit ons nou.

Fàilte!

Friday 28 September 2007

Nuwe begin in Skotland

Hierdie is 'n artikel wat ook op Praag se webwerf te vinde is.

'n Afrikaner in Skotland - Deel 1: Die Goeie

'Soo, where yoo from, miss? Gêrmany?
Hulle hoor onmiddellik dat ek nie 'n Skot is nie.
'No, I'm from another continent.'
'Pooland?'
‘That's the saeme continent, yoo idiot!' roep iemand anders tot almal se vermaak. Ek skud my kop en rol my oë gemaak ongeduldig en geniet die nuwe aksent.
'It's in the southern hemisphere,' gee ek hulle nog 'n leidraad.
'Mexico! Amaêrica! Austraêlia!...'
Tot iemand uiteindelik reg raai. 'Africa!'
'Well done! I'm from South Africa.'
'n Silte daal oor die klas neer en 'n outjie steek sy hand op.
'Hoe come yoo're white if yoo're from Africa?'
Op daardie oomblik het ek geweet: Skotland gaan 'n tuiste word.


Ons het aanvanklik besluit om Noord te trek as gevolg van die oorbevolking in Engeland. Dit, eerder as die hoë lewenskoste en besoedeling naby Londen, het ons gemotiveer om onsself weer eens te ontwortel. My man begeer al jare lank om in Skotland te woon, waarskynlik as gevolg van fantasieë oor die wilde Vikings en die oorvloed van enkel-malt whiskey. Na 'n kort vakansie in Edinburgh en Fife, het die skoonheid en andersheid van die omgewing my ook oorweldig en dit was nie moeilik om die finale besluit te neem nie. En hier is ons nou!

Ek het begin werk soek en moes weer van voor af goedkeuring kry om onderwys te gee. Mens sou dink my kwalifikasies en blink-nuwe Engelse onderwysregistrasie sou genoeg wees, maar nee. Die Skotte vertrou hulle bure omtrent net soveel soos 'n skaap 'n honger wolf en dus moes ek opnuut aansoek doen vir onderwysregistrasie. Enige voornemende onderwyser wat belangstel om hier te kom werk kan gerus kennis neem van die feit dat die Skotse registrasieproses soveel meer gebruikersvriendelik is as díé van Engeland, veral vir Suid-Afrikaners.

Die komplekse verhouding tussen die Engelse en Skotte is vir my as buitestaander 'n bron van vermaak - seker vergelykbaar met die gekibbel tussen die Transvalers en Kapenaars. Vandat ons ons planne om na Skotland te verhuis bekend gemaak het, het ons Engelse vriende luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee. Dit sou meer aanvaarbaar wees om na Suid-Afrika terug te keer, maar Skotland toe?!
'It's too cold there, you're crazy!'
'Uh, you know, we are from South Africa, the weather is kind of relative,' het ek probeer verduidelik.
Maar hulle het gedink ons is van lotjie getik, behalwe die enkelinge wat hou van golf en rugby. Vir hulle het die skuif min of meer sin gemaak. Een van my kollegas het my in haar deftige aksent meegedeel dat die Skotte agterlik is, maar aangesien ons van Afrika kom sou ons miskien tuis voel … A-hemmm!!! Dat ‘n opgevoede persoon so stompsinnig kan wees gaan my verstand te bowe, maar soms kan die Engelse te veel van hulself dink. (Nes die Kapenaars.)

Die meeste Engelse dink nie veel van hulle Skotse bure nie, en dit wil voorkom of die gevoel wederkerig is. Die antagonisme is geskiedkundig van aard: 'n eeu-oue stryd om land, godsdiens en rykdom, en dit ten spyte van bykans identiese genetiese oorsprong. Klink dit bekend? Om Steven Spielberg losweg aan te haal: 'Same shit, different country.'

Die mees opvallende kenmerk van die Skotte is hulle gemoedelikheid en/of sin vir humor. Nie die geforseerde jovialiteit van die Amerikaners, wat jou omhels en onmiddelik jou naam vergeet nie, maar 'n opregte belangstelling in mens as individu. Die inboorlinge is van nature gasvry en hulpvaardig. Nuuskierig ook; as buitestaander is dit lekker as iemand in jou belangstel. In die klaskamer, in die winkels en by die veearts word ek steeds uitgevra waar ek vandaan kom, van presies watter deel in Suid-Afrika, waarom ons in Skotland woon, en die vraagsteller het gewoonlik 'n eie brokkie nuus oor of perspektief op Suid-Afrika. In gesprekke van geskiedkundige en politieke aard is dit duidelik dat die Skotte en die Afrikaners baie in gemeen het: hulle het tydens die 'Highland Clearances' in die laat 18de eeu hulle eie apartheid deurleef, hulle belewenis van die inmengery en geboelie deur die Engelse, en die interne debatte en konflikte rondom godsdiens en nasionale identiteit wat vandag steeds voortduur. Raakpunte soos hierdie lei daartoe dat ons empatie met mekaar het.

Ons woon al amper vier maande hier. My Skotse aksent verbeter daagliks - volgens my kollegas - want elke dan en wan glip vreemde woorde soos 'wee' en 'aie' uit. Ons is gelukkig hier, beplan nie om na ons Moederland terug te keer nie. Hierdie unieke volk, met hulle misterieuse voorvaders en kleurvolle geskiedenis, begin wortel skiet in ons harte.


'For that is the mark of the Scots of all classes:
that he stands in an attitude towards the past
unthinkable to Englishmen, and remembers and
cherishes the memory of his forebears, good or
bad; and there burns alive in him a sense of identity
with the dead even to the twentieth generation.'

Robert Louis Stevenson

Voordat Skotland egter soos ‘n nuwe Utopia klink, sal ek in my volgende bydra ook minder aangename ervaringe deel - van spelfoute in koerante tot ongepoetste skoolseuns.

Thursday 27 September 2007

Hier in Skotland

DIe tyd het ryp geword om in Afrikaans te begin blog. En hier is die resultaat. My ma en man dink ek skryf beter in Engels, maar ek wil tog iets in die moedertaal op die net publiseer.

Gaan nou eers moet uitwerk hoe om al die kappie-e's ens te doen.