Thursday 26 August 2010

Slapeloos in Skotland

Slapeloosheid.  Die vloek van die moderne mens.  Die euwel van ons tyd.  Die ondier in die plesier.  Slapeloosheid suig.


Ek het gisteraand genoeg geslaap, die dat ek meer alliterasie gebruik as gewoonlik.  Ek lei al van jongs af aan slapeloosheid.  Die eerste keer wat dit regtig onder my aandag gekom het was die aand voor my eerste Jool.  Ek kon nie slaap nie, 1uur, 2uur, 3uur...Ek het die aand by vriende oorgeslaap en hulle het een van daai fancy alamstelsels wat afgaan sodra dit bewegings raaksien in die huis, en ek het nie die kode gehad nie.  Ek sal nooit vergeet hoe ek in die klein kamertjie rondgerol en gedraai en gesit het nie, doodmoeg maar te opgewonde om te slaap.  'n Jaar of so later sou ek vir 'n week lank nie slaap nie, maar dis 'n ander storie.

Slapeloosheid laat jou aaklig voel en lyk.  Selfs ek, wat nie besonder baie slaap nodig het nie, verpes die gevoel van onderliggende vaalheid wat 'n nag met min slaap opvolg.  Kleure is minder helder en my geheue is so sluggish soos 'n slak wat deur diep modder aansukkel.  My vel is sonder enige sprankel en oor die algemeen is ek baie meer moerig.  Ek vermoed dat ek mawees vir so lank uitgestel het omdat ek nie besonder lus was vir die slapeloosheid wat babatjies bring nie.  My baba het aanvanklik goed geslaap, en toe baie sleg begin slaap, en toe begin ek ook ophou slaap.  (Niks is so goor soos om wakker te lê terwyl jou baba slaap nie).  Dit was donker tye, saam met die donker van sneeu en winter, maar mens kom op 'n manier daardeur.

Ek het al baie navorsing oor slapeloosheid gedoen.  Die nuutste navorsing bewys dat mens minder slaap nodig het soos jy ouer word, en dat 5 tot 6 ure se slaap 'n nag heeltemal genoeg is om te funksioneer.  Jou gesondheid behoort nie daaronder te lei nie, wel jou gemoed (moerig, issigrimmig ens.)  Mens kan deesdae na slaapklinieke gaan met spesiale slaapspesialiste wat allerhande goed kan diagnoseer. Groot besigheid, is slaap.  Ek het selfs uit desperaatheid 'n kursus gevolg wat belowe om jou slapeloosheid FINAAL te oorkom, maar ongelukkig het dit nie gewerk nie.

In die vroeë oggendure is dit stil soos 'n droom buite.  In die Somer sien ek soms die krimpvarkie in ons tuin rondsnuffel.  Die lug het 'n besondere vars kwaliteit en soms skyn die maan so helder soos 'n buitelig.  Jou brein maak wilde draaie in jou verlede en toekoms, maar huppel oor die hede.  Vrede voel buite bereik, maar om vrede te maak met die slapeloosheid is ongelukkig die enigste manier om weer soet aan die slaap te raak.

Saturday 21 August 2010

Nuustak

Ek het nooit besef nuus is so interessant nie.  Nie die inhoud nie, maar die nuus agter die nuus.  In Suid Afrika het ek meestal die Pretoria News of Beeld gelees, want my pa het dit in ons huis laat rondlê.  In my jeugdige onkunde het ek eers later ontdek dat, alhoewel die stories in beide koerante min of meer dieselfde was, die invalshoek en uitgangspunt van elke publikasie verskil het.  So verskillend soos Tiger Woods se reputasie voor en na sy in-die-bondel-verneukery.  Maar in die Kaap waar ek die Argus begin lees het, het die skille verder van my oë geval.  Dat dieselfde (min of meer) nuus op soveel verskillende wyses geïnterpreteer kon word, was net so ongelooflik soos Tiger Woods se fake publieke skulderkenning.   So, waar lê die waarheid?

Hier in die UK is die nuus gróót:  groot stories, groot geld en groot egos.  Ek het aanvanklik die Daily Mail gelees met sy gesonde balans tussen nuus en skindernuus.  Dis 'n poniekoerant so as jy 'n matig opgevoed is, is dit nie polities korrek om te erken dat jy dit lees (of geniet) nie, maar ek het.  Tot ek begin moeg raak het vir hul eindelose negatiewe retoriek oor immigrasie 
The great lie: How immigration actually costs Britain money and could cause huge social problems !!!! 
en algemene regsheid.  


Ek het die Independent (only bought by people advised by their doctor to avoid any form of excitement), Guardian (ook genoem The Graudian vanweë groot hoeveelheid drukfoute) en The Daily ToryTelegraph probeer, maar helaas, hulle het my eindeloos verveel.  Nie een het genoeg prentjies nie, en jy het omtrent 'n graad van 'n Oxbridge Universiteit nodig om die artikels te ontleed.  Hierdie koerante is streng bedoel vir mense wat The Economist in Suid-Afrika waardeer.


Op die ou end het ek op The Times besluit.  As jy die Sunday Times koop, het jy vir die hele week leesstof.   Die opinies is op-die-oog-af redelik objektief, en ek waardeer columnists soos Caitlin 'My glorious career?  I won it in a competition' Moran en Rod Liddle.   (Wat skryf oor Tiger Woods: 
The most relentlessly boring man in the entire history of the world’s most boring game, golf, a man seemingly bereft of personality, hinterland, mischief, hidden depths — you name it, Tiger Woods doesn’t have it.)


Aangaande die waarheid, hmm, ek weet nog steeds nie.  Galileo Galilei het gesê die waarheid is maklik verstaanbaar, maar die punt is om dit eers te ontdek.  Verskoon my, ek moet verder gaan ondersoek instel...









Saturday 7 August 2010

Braai

Wat mens in Skotland nodig het om 'n suksesvolle braai te hou:

  1. Kies 'n dag wat die weerburo voorspel gaan nat en koud wees, want hulle is meestal eweredig omgekeerd verkeerd en daai dag mag die son dalk skyn.  Sonskyn en bietjie wind is die best-case scenario.  Acceptable-case scenario is geen reën en bietjie wind. 
  2. Besit verkieslik 'n beskutte gazebo of 'n konserwatorium waarin jou gaste kan skuil in geval van die worst-case scenario, naamlik reën, koue en wind.  Moenie jou laat flous deur 'n sonnige begin nie, dit verander in 'n oogwink.
  3. Maak seker jou braaiarea is beskut teen slegte weer.  En dat genoemde area voldoen aan jou council se huidige reëls aangaande braai.  Laat ook jou bure weet dat jy later as 9 pm gaan raas, maar in ons dorp met sy bogemiddelde kwota fietas kan jy sommer oor die heining skree as dinge te erg raak.
  4. Hou 'n kamer in die huis beskikbaar met 'n dvd speler of 'n magdom PS3 speletjies vir die kinders, net ingeval.
  5. Koop jou vleis by Aldi, hulle braaireekse is smaaklik en goedkoop.  As jy boerewors wil bestel, gaan na die slagter op Kinross of vra my broer.  
  6. Maak seker jy koop regte braaikole lank voor die tyd, want as die eerste Somerbloeisels hul skugter verskyning maak, hou elke Skot, sy neef en neef se hond 'n barbie en word die kole uitverkoop.
Laasweek word ek en my familie genooi na 'n braai hier op ons dorp.  Ons vriende, David en Janet, is van daai rare tipes met 'n sosiale gewete gebaseer op 'n opregte, onverklaarbare liefde vir hul medemens.  Hulle het so paar jaar gelede begin om al hulle bure te nooi vir etes en speletjies, en dis 'n jaarlikse sukses.  Ons is hierdie keer genooi, helaas nie omdat ons ook in die ryker beter deel van Kelty bly nie,  ook nie oor my verbysterende vermoëns as roundersspeler nie, maar omdat hulle nuwe bure Suid-Afrikaners is.  Waaaaaaaat?!!  Hier in ons dorp?  Regte-egte Suid-Afrikaners?!  Wowza!  Ons het 'n paar honde uit 'n bos gekuier, in Afrikaans, en ek en baba het intussen by hulle gaan kuier, pannekoek ingesluit.
En as die weer dit toelaat sal ons binnekort 'n braai hou.

Thursday 15 July 2010

Hoe anders is dit eintlik hier?

Ek geniet Zoë Ferraris se boek The Night of the Mi'raj.  Sy is 'n Amerikaner wat in San Francisco met 'n Moslem Bedouin getroud is, en het 'n jaar in Jeddah, Saudi Arabië, saam met hom deurgebring.  Dis 'n roman gelaai met beskrywings van lewe agter die burqa-gordyn en vrek interessant.  Vir 'n Westerling is dit onmoontlik om 'n wêreld voor te stel waar vrouens nie mag uitgaan sonder 'n man se toestemming nie, en nog erger, 'n lewe sonder bier.

Hoe anders is Skotland eintlik van Suid Afrika?  'n Populêre karikatuur van 'n Skot is 'n man met 'n gestreepte rokkie aan wat op 'n yslike berg staan en doedelsak blaas.  Met 'n rooi neus van al die whisky om hom teen die koue te staaf.  Of 'n yslike blou Mel Gibson-lookalike krygsman, half-nakend met 'n reusagtige swaard in die sneeu, in die proses om 'n armsalige Engelsman se kop af te tjop.  Meeste Skotte lag vir die tipe stereotipisering en probeer hulself so ver as moontlik daarvan verwyder.  Dis die ekwivalent van 'n Afrikaner wat volkspele doen, boereliedjies sing en arme swartes dwing om hulle eie toilette te gebruik.  'n Moderne Afrikaner wil niks daarmee uit te waai hê nie.  Of so sê ons.

Maar onlangs was dit die laaste dag by my skool en dit was onder andere die S6 (hulle ekwivalent van Matrieks) se jaareindfunksie.  Die byeenkoms was soos almal van sy soort, met belangrike mense wat vervelige motiverende toesprake lewer oor die toekoms terwyl almal eintlik wag vir die kos na die tyd.  Maar die seremonie is afgesluit met al die ou leerlinge wat die saal verlaat op maat van 'n hartroerende doedelsakmelodie.  (Nie op 'n cd gespeel nie, 'n regte speler, bygesê.)  Die knop in my keel het hoog gestyg en ek kon iets begryp van die trots en erfenis van die Skotse kultuur.

Miskien as die Afrikanerkulttuur nog so paar honderd jaar oud is sal 'n trekklavierklank dieselfde effek op my nasate hê.

Sunday 16 May 2010

Hoe eerlik kan mens wees?

Hoe eerlik kan mens wees in so blog?  Deesdae met bietjie inligting van Google maps en miskien 'n gelukskoot op Facebook kan enigiemand op aarde uitvind presies wie ek is, waar ek bly en hoeveel diefwering voor ons vensters is.  My blog gee nog meer van ons weg en dit laat mens nogal ongemaklik voel.  Die paranoia bestaan ook op die Web - kyk na die bohaai wat oor Facebook en 'n paniekknoppie opgeskop word.

In die regte lewe is daar mense wat jy ontmoet en binne die volgende 5 minute weet jy dat hulle
a)  as kind diep verwond is,
b)  gaan vir diepwater-aan-die-voet-oplig terapie,
c)  'n streng vegetariese dieet volg,
d) en vandag broos voel as gevolg van die maan se siklus.
En al wat jy dink is: huh?!  Bly weg, bly weg.

Maar terselfdertyd is die webwerwe vol mense wat dinge in anonimiteit aan mekaar erken wat hul skynbaar nooit in die 'regte' lewe sou doen nie.  So iewers moet die balans gevind word tussen om nie jou perels vir die varke gooi nie maar steeds eerlik te wees.
Die huidige verkiesingsveldtog en uiteindelike verklaring van 'n LibCon regering laat my verder wonder.  David Cameron en Nick Clegg is nou best buddies, 'n skamele week nadat hulle mekaar as aartsvyande uitgekryt het.  Maar dis net politiek, wat niks met die regte lewe te doen het nie.        

Saturday 13 March 2010

Afwesighede

Die lewe vat soms lang draaie. Nee, nee, wat 'n cliche. Eerder, die lewe gebeur en soms word mens saamgesleur sonder keuse. In die stroom is dit altyd beter om te ontspan en saam te dobber as om te spartel. Kom spring saam in die water.

Ek en my man is nou trotse, angstige ouers van 'n een-jarige babatjie genaamd Ben. In my agterkop het ek die fantasie gekoester dat moederskap 'n toestand van algehele genot met occasional hiccups is. Dat ek gaan blom op 'n nuwe wyse en tydens al die ure wat hy slaap pittige blogs oor moederskap gaan kwytraak. Haaaaaahahaha!!! (rol op die grond en lag histeries)
My ouma, ma en al die ander moeders wat ek ken was reg: daar is niks op aarde - of in die ruimte - wat jou op die mallemeule van ouerwees voorberei nie. Ek gaan nie eers uitbrei op die lang geboorte wat in 'n noodkeiser gekulmineer het nie, of die slapelose nagte wat helaas nog nie verby is nie. Dit is alles niks in vergelykig met die relentlessness van jou oorweldigende gevoelens vir die vreemdeling nie. 'n Oorweldiging van liefde, bekommernis, verwondering, angs, en kannie-ophou-kyk-na-my-kind nie. Nou nog knyp ons onsself en sê: dis ons s'n?!

Ek gaan ook nie tyd mors deur te koer oor hoe wonderlik dit is om 'n ma te wees nie, want, liewe leser, soms suig dit. Dis baie vervelig om dieselfde goed oor en oor te doen, en mens wag nogal lank voordat baba regtig begin terug kommunikeer. Vir 'n groot deel van die eerste jaar is dit 'n raaispel en net omdat jy ma of pa is maak jou raaiskote nie altyd reg nie. Ek sal ook nie aanbeveel om 'n baba te hê in die koudste winter wat Skotland nog getref het nie. Ten spyte van die wonderskone sneeu kon ons nie regtig met baba uitgaan nie, en phew, dit raak vervelig.
Haai sies, ek lees hierdie en voel skuldig dat ek so kla. Maar hello skuldgevoel, my skoonsuster sê dit peul so saam met die nageboorte uit. Erens het die kondome wat ons so getrou gebruik het in die asdrom beland, en wat 'n wonderlike besluit!