Thursday, 15 July 2010

Hoe anders is dit eintlik hier?

Ek geniet Zoë Ferraris se boek The Night of the Mi'raj.  Sy is 'n Amerikaner wat in San Francisco met 'n Moslem Bedouin getroud is, en het 'n jaar in Jeddah, Saudi Arabië, saam met hom deurgebring.  Dis 'n roman gelaai met beskrywings van lewe agter die burqa-gordyn en vrek interessant.  Vir 'n Westerling is dit onmoontlik om 'n wêreld voor te stel waar vrouens nie mag uitgaan sonder 'n man se toestemming nie, en nog erger, 'n lewe sonder bier.

Hoe anders is Skotland eintlik van Suid Afrika?  'n Populêre karikatuur van 'n Skot is 'n man met 'n gestreepte rokkie aan wat op 'n yslike berg staan en doedelsak blaas.  Met 'n rooi neus van al die whisky om hom teen die koue te staaf.  Of 'n yslike blou Mel Gibson-lookalike krygsman, half-nakend met 'n reusagtige swaard in die sneeu, in die proses om 'n armsalige Engelsman se kop af te tjop.  Meeste Skotte lag vir die tipe stereotipisering en probeer hulself so ver as moontlik daarvan verwyder.  Dis die ekwivalent van 'n Afrikaner wat volkspele doen, boereliedjies sing en arme swartes dwing om hulle eie toilette te gebruik.  'n Moderne Afrikaner wil niks daarmee uit te waai hê nie.  Of so sê ons.

Maar onlangs was dit die laaste dag by my skool en dit was onder andere die S6 (hulle ekwivalent van Matrieks) se jaareindfunksie.  Die byeenkoms was soos almal van sy soort, met belangrike mense wat vervelige motiverende toesprake lewer oor die toekoms terwyl almal eintlik wag vir die kos na die tyd.  Maar die seremonie is afgesluit met al die ou leerlinge wat die saal verlaat op maat van 'n hartroerende doedelsakmelodie.  (Nie op 'n cd gespeel nie, 'n regte speler, bygesê.)  Die knop in my keel het hoog gestyg en ek kon iets begryp van die trots en erfenis van die Skotse kultuur.

Miskien as die Afrikanerkulttuur nog so paar honderd jaar oud is sal 'n trekklavierklank dieselfde effek op my nasate hê.

No comments: