Showing posts with label Alledaagse lewe. Show all posts
Showing posts with label Alledaagse lewe. Show all posts

Saturday, 7 August 2010

Braai

Wat mens in Skotland nodig het om 'n suksesvolle braai te hou:

  1. Kies 'n dag wat die weerburo voorspel gaan nat en koud wees, want hulle is meestal eweredig omgekeerd verkeerd en daai dag mag die son dalk skyn.  Sonskyn en bietjie wind is die best-case scenario.  Acceptable-case scenario is geen reën en bietjie wind. 
  2. Besit verkieslik 'n beskutte gazebo of 'n konserwatorium waarin jou gaste kan skuil in geval van die worst-case scenario, naamlik reën, koue en wind.  Moenie jou laat flous deur 'n sonnige begin nie, dit verander in 'n oogwink.
  3. Maak seker jou braaiarea is beskut teen slegte weer.  En dat genoemde area voldoen aan jou council se huidige reëls aangaande braai.  Laat ook jou bure weet dat jy later as 9 pm gaan raas, maar in ons dorp met sy bogemiddelde kwota fietas kan jy sommer oor die heining skree as dinge te erg raak.
  4. Hou 'n kamer in die huis beskikbaar met 'n dvd speler of 'n magdom PS3 speletjies vir die kinders, net ingeval.
  5. Koop jou vleis by Aldi, hulle braaireekse is smaaklik en goedkoop.  As jy boerewors wil bestel, gaan na die slagter op Kinross of vra my broer.  
  6. Maak seker jy koop regte braaikole lank voor die tyd, want as die eerste Somerbloeisels hul skugter verskyning maak, hou elke Skot, sy neef en neef se hond 'n barbie en word die kole uitverkoop.
Laasweek word ek en my familie genooi na 'n braai hier op ons dorp.  Ons vriende, David en Janet, is van daai rare tipes met 'n sosiale gewete gebaseer op 'n opregte, onverklaarbare liefde vir hul medemens.  Hulle het so paar jaar gelede begin om al hulle bure te nooi vir etes en speletjies, en dis 'n jaarlikse sukses.  Ons is hierdie keer genooi, helaas nie omdat ons ook in die ryker beter deel van Kelty bly nie,  ook nie oor my verbysterende vermoëns as roundersspeler nie, maar omdat hulle nuwe bure Suid-Afrikaners is.  Waaaaaaaat?!!  Hier in ons dorp?  Regte-egte Suid-Afrikaners?!  Wowza!  Ons het 'n paar honde uit 'n bos gekuier, in Afrikaans, en ek en baba het intussen by hulle gaan kuier, pannekoek ingesluit.
En as die weer dit toelaat sal ons binnekort 'n braai hou.

Thursday, 15 July 2010

Hoe anders is dit eintlik hier?

Ek geniet Zoë Ferraris se boek The Night of the Mi'raj.  Sy is 'n Amerikaner wat in San Francisco met 'n Moslem Bedouin getroud is, en het 'n jaar in Jeddah, Saudi Arabië, saam met hom deurgebring.  Dis 'n roman gelaai met beskrywings van lewe agter die burqa-gordyn en vrek interessant.  Vir 'n Westerling is dit onmoontlik om 'n wêreld voor te stel waar vrouens nie mag uitgaan sonder 'n man se toestemming nie, en nog erger, 'n lewe sonder bier.

Hoe anders is Skotland eintlik van Suid Afrika?  'n Populêre karikatuur van 'n Skot is 'n man met 'n gestreepte rokkie aan wat op 'n yslike berg staan en doedelsak blaas.  Met 'n rooi neus van al die whisky om hom teen die koue te staaf.  Of 'n yslike blou Mel Gibson-lookalike krygsman, half-nakend met 'n reusagtige swaard in die sneeu, in die proses om 'n armsalige Engelsman se kop af te tjop.  Meeste Skotte lag vir die tipe stereotipisering en probeer hulself so ver as moontlik daarvan verwyder.  Dis die ekwivalent van 'n Afrikaner wat volkspele doen, boereliedjies sing en arme swartes dwing om hulle eie toilette te gebruik.  'n Moderne Afrikaner wil niks daarmee uit te waai hê nie.  Of so sê ons.

Maar onlangs was dit die laaste dag by my skool en dit was onder andere die S6 (hulle ekwivalent van Matrieks) se jaareindfunksie.  Die byeenkoms was soos almal van sy soort, met belangrike mense wat vervelige motiverende toesprake lewer oor die toekoms terwyl almal eintlik wag vir die kos na die tyd.  Maar die seremonie is afgesluit met al die ou leerlinge wat die saal verlaat op maat van 'n hartroerende doedelsakmelodie.  (Nie op 'n cd gespeel nie, 'n regte speler, bygesê.)  Die knop in my keel het hoog gestyg en ek kon iets begryp van die trots en erfenis van die Skotse kultuur.

Miskien as die Afrikanerkulttuur nog so paar honderd jaar oud is sal 'n trekklavierklank dieselfde effek op my nasate hê.

Saturday, 13 March 2010

Afwesighede

Die lewe vat soms lang draaie. Nee, nee, wat 'n cliche. Eerder, die lewe gebeur en soms word mens saamgesleur sonder keuse. In die stroom is dit altyd beter om te ontspan en saam te dobber as om te spartel. Kom spring saam in die water.

Ek en my man is nou trotse, angstige ouers van 'n een-jarige babatjie genaamd Ben. In my agterkop het ek die fantasie gekoester dat moederskap 'n toestand van algehele genot met occasional hiccups is. Dat ek gaan blom op 'n nuwe wyse en tydens al die ure wat hy slaap pittige blogs oor moederskap gaan kwytraak. Haaaaaahahaha!!! (rol op die grond en lag histeries)
My ouma, ma en al die ander moeders wat ek ken was reg: daar is niks op aarde - of in die ruimte - wat jou op die mallemeule van ouerwees voorberei nie. Ek gaan nie eers uitbrei op die lang geboorte wat in 'n noodkeiser gekulmineer het nie, of die slapelose nagte wat helaas nog nie verby is nie. Dit is alles niks in vergelykig met die relentlessness van jou oorweldigende gevoelens vir die vreemdeling nie. 'n Oorweldiging van liefde, bekommernis, verwondering, angs, en kannie-ophou-kyk-na-my-kind nie. Nou nog knyp ons onsself en sê: dis ons s'n?!

Ek gaan ook nie tyd mors deur te koer oor hoe wonderlik dit is om 'n ma te wees nie, want, liewe leser, soms suig dit. Dis baie vervelig om dieselfde goed oor en oor te doen, en mens wag nogal lank voordat baba regtig begin terug kommunikeer. Vir 'n groot deel van die eerste jaar is dit 'n raaispel en net omdat jy ma of pa is maak jou raaiskote nie altyd reg nie. Ek sal ook nie aanbeveel om 'n baba te hê in die koudste winter wat Skotland nog getref het nie. Ten spyte van die wonderskone sneeu kon ons nie regtig met baba uitgaan nie, en phew, dit raak vervelig.
Haai sies, ek lees hierdie en voel skuldig dat ek so kla. Maar hello skuldgevoel, my skoonsuster sê dit peul so saam met die nageboorte uit. Erens het die kondome wat ons so getrou gebruik het in die asdrom beland, en wat 'n wonderlike besluit!

Sunday, 18 May 2008

My broer se wors


My broer se wors

'n Vis uit die water. Alienated. Ek probeer aan goeie beskrywings dink om die gevoel van vreemdeling-wees in 'n ander land, wat mens soms beetpak, te beskryf. Dis nie soseer dat dinge soveel anders is nie: inteendeel, hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer gepas is die uitdrukking:

Plus ça change, plus c’est la même chose

Mense se basiese behoeftes, vrese en begeertes is eintlik orals dieselfde. Die boemelaar op straat is hier net so op die rand van die samelewing as die Bergies in Kaapstad. Die rykes hier pof hulself met dieselfde uitspattighede as die Sandton-tannies in Johannesburg op. En die middelklas van Edinburgh soek ook na iets beter vir die toekoms, nes die middelklas van Bloemfontein. Die verskil is dat almal in Suid-Afrika eie aan jou was, soos niemand hier ooit jóúne gaan wees nie. Die mislukkings van die rykes, armes en middelstes (ek kan steeds nie besluit waar ek inpas nie) was in Suid Afrika ten minste bekend. Hier gaan ons altyd anders wees.

Dis hoekom my broer en sy wors so welkom is. Nee, besluit hy, hy is lus vir regte boerewors en hy gaan dit self maak. My broer is 'n Steenbok maar ek het steeds gedink hy maak 'n grap. 'n Paar dae later kom die posman met 'n pakkie aan, en dis toe 'n outydse silwer vleismeultjie. Vir wors, sê my broer, met 'n glinster in sy oog. Ons het almal Vrydagaand in die kombuis vergader terwyl die proses ontvou. Hy het my ma gebel en die Internet geraadpleeg, en die goedgegeurde vleis is met die hulp van klein handjies deur die meule. Toe word die falliese kontrapsie om die wors mee te stop, aangesit. Teen hierdie tyd ruk die vuil grappies en insinuasies amper handuit. Die worsderm – van egte vark – is tydsaam gestop en daar eindig die proses met twee borde egte boerewors.


My broer was laas so trots met die geboorte van sy tweede dogter! En Sondag is die einste wors gebraai oor die kole … ek het hard aan die knop in my keel gesluk. Dit was meer as net wors, meer as net vleis, dit was 'n greep uit die verlede wat eintlik 'n ander land is.

Friday, 28 March 2008

Klein Kelty



Ek blameer my ma, een-honderd persent. En my pa, hy is net so skuldig. Hulle het my aangemoedig om boeke te lees soos PH Nortje se “Son”-reekse, en televisieprogramme soos Koöperasie Stories te kyk (dit nadat TV-kyk nie meer sonde was nie …). Ek is verder gebreinspoel met Toujours Provence en Babette's Feast - lieflike verhale van gemeenskappe en/of families wat saamwoon in lief en leed. Aan die een kant voer die meer nugtere kant van my brein aan dat sulke sketse 'n idealistiese hopie Kilo Alfa Kilo is, maar aan die ander kant, hmmm. Soek ons elkeen nie maar na so plekkie in die klein-gemeenskappie-son nie?

In Suid-Afrika was my gevoel van behoort nie aan 'n plek verbonde nie, eerder aan sekere mense. Ek het gereeld bekendes in Exclusive Books ontmoet, was op voornaam-terme met die eienares en span kelners van Café de la Derniẽre Rose, en het op 'n stadium die koek-spyskaart van die Grapevine uit my kop geken. Maar my soeke na die outentieke gemeenskapservaring, soos gesien in Jean de Florette, het reguit na Europa gelei, en toe land ek op die ou end in Engeland. Groot fout. Êrens op die Engelse platteland is daar sekerlik dorpies weggesteek waar die mense mekaar ken en bure resepte uitruil, maar waar ons gebly het was onpersoonlik en gejaagd - net soos die stede in Suid-Afrika.

In Skotland ontdek ons toevallig die dorpie Kelty; klein, soms vuilerig, maar groot van hart en skinderstories. Oppad na die biblioteek het ek en nuwe kennisse dikwels “a wee blether” (Skots vir geselsie aanknoop). In die agtertuin word ons weekliks deur die buurman met stories oor die dorp se doen en late vermaak. Ek ken al die tannies by die winkel se gesigte en kan ook nie meer by die kerk se liefdadigheidswinkel ingaan sonder om 'n paar minute daar te staan en kuier nie. Heerlik!

So gepraat van. Dit was Sondag en ons was op soek na kondome. En in die hele Kelty kon ons nie 'n enkele kondoom in die hande kry nie! Eerstens het ek en my man gestry oor wie eintlik die plesierpakkie moes gaan koop, want ek het gevoel hý moet, hy is 'n man en dis mos wat hulle doen, is dit nie?! Op die ou end is dit ek want hy het laas keer.

Ons het aan die een kant van die dorp begin, by die beknopte winkel doer in die hoek, verste van die kerk af. Toe ek vra vir kondome het die assistent haar oë 'n paar keer geknip.

"No, we don't sell them.”

Ek was vies, want ons leef in die een-en-twintigste eeu en hoe kan mens dan nie by 'n algemene handelaar in 'n eerstewêreldland 'n sterretjie-sterretjie-sterretjie pakkie kondome koop nie? Ons is summier na die volgende, grootste algemene handelaar op die dorp. In die rak by die toiletartikels kry ek ook niks en nader ek die tannie wat toevallig daar staan en rakke afstof.

“Excuse me, do you sell condoms?” Sy was min gespin.

“Aie, but I don't know whêrrre they arrre. With all the recent chaenges everaything is lying aboot. Whêt, let me look in the office.”

Na 'n paar minute kom sy terug, nee, sorrie, ek moet agter die toonbank vra. Ek staan in die ry en toe is dit my beurt.

“Nhêxt, please.” Groot stem, die antie.

Ek leun so half vooroor. “Do you have any condoms?” fluister ek.

“Wherre arrre the condoms?” roep sy dat dit deur die hele winkel weergalm. En soos een man draai almal in die plek om en staar. Na my. Die een wat kondome koop. Ek het effens verbouereerd na die meisie langs my gekyk, en sy het lekker begin lag. Dit terwyl die tannie met die groot stem op en af agter die toonbank loop, haar stem op sy hardste volume-stelling, op soek na die kondome.

Ek is op die ou end met leë hande daar uit, bietjie verleë en baie gefrustreerd (ha-ha!). Ek dink nie iemand van my kerk was daar nie, gelukkig. Ons sal maar vir volgende week oor die Internet ons inkopies doen.

Friday, 28 September 2007

Nuwe begin in Skotland

Hierdie is 'n artikel wat ook op Praag se webwerf te vinde is.

'n Afrikaner in Skotland - Deel 1: Die Goeie

'Soo, where yoo from, miss? Gêrmany?
Hulle hoor onmiddellik dat ek nie 'n Skot is nie.
'No, I'm from another continent.'
'Pooland?'
‘That's the saeme continent, yoo idiot!' roep iemand anders tot almal se vermaak. Ek skud my kop en rol my oë gemaak ongeduldig en geniet die nuwe aksent.
'It's in the southern hemisphere,' gee ek hulle nog 'n leidraad.
'Mexico! Amaêrica! Austraêlia!...'
Tot iemand uiteindelik reg raai. 'Africa!'
'Well done! I'm from South Africa.'
'n Silte daal oor die klas neer en 'n outjie steek sy hand op.
'Hoe come yoo're white if yoo're from Africa?'
Op daardie oomblik het ek geweet: Skotland gaan 'n tuiste word.


Ons het aanvanklik besluit om Noord te trek as gevolg van die oorbevolking in Engeland. Dit, eerder as die hoë lewenskoste en besoedeling naby Londen, het ons gemotiveer om onsself weer eens te ontwortel. My man begeer al jare lank om in Skotland te woon, waarskynlik as gevolg van fantasieë oor die wilde Vikings en die oorvloed van enkel-malt whiskey. Na 'n kort vakansie in Edinburgh en Fife, het die skoonheid en andersheid van die omgewing my ook oorweldig en dit was nie moeilik om die finale besluit te neem nie. En hier is ons nou!

Ek het begin werk soek en moes weer van voor af goedkeuring kry om onderwys te gee. Mens sou dink my kwalifikasies en blink-nuwe Engelse onderwysregistrasie sou genoeg wees, maar nee. Die Skotte vertrou hulle bure omtrent net soveel soos 'n skaap 'n honger wolf en dus moes ek opnuut aansoek doen vir onderwysregistrasie. Enige voornemende onderwyser wat belangstel om hier te kom werk kan gerus kennis neem van die feit dat die Skotse registrasieproses soveel meer gebruikersvriendelik is as díé van Engeland, veral vir Suid-Afrikaners.

Die komplekse verhouding tussen die Engelse en Skotte is vir my as buitestaander 'n bron van vermaak - seker vergelykbaar met die gekibbel tussen die Transvalers en Kapenaars. Vandat ons ons planne om na Skotland te verhuis bekend gemaak het, het ons Engelse vriende luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee. Dit sou meer aanvaarbaar wees om na Suid-Afrika terug te keer, maar Skotland toe?!
'It's too cold there, you're crazy!'
'Uh, you know, we are from South Africa, the weather is kind of relative,' het ek probeer verduidelik.
Maar hulle het gedink ons is van lotjie getik, behalwe die enkelinge wat hou van golf en rugby. Vir hulle het die skuif min of meer sin gemaak. Een van my kollegas het my in haar deftige aksent meegedeel dat die Skotte agterlik is, maar aangesien ons van Afrika kom sou ons miskien tuis voel … A-hemmm!!! Dat ‘n opgevoede persoon so stompsinnig kan wees gaan my verstand te bowe, maar soms kan die Engelse te veel van hulself dink. (Nes die Kapenaars.)

Die meeste Engelse dink nie veel van hulle Skotse bure nie, en dit wil voorkom of die gevoel wederkerig is. Die antagonisme is geskiedkundig van aard: 'n eeu-oue stryd om land, godsdiens en rykdom, en dit ten spyte van bykans identiese genetiese oorsprong. Klink dit bekend? Om Steven Spielberg losweg aan te haal: 'Same shit, different country.'

Die mees opvallende kenmerk van die Skotte is hulle gemoedelikheid en/of sin vir humor. Nie die geforseerde jovialiteit van die Amerikaners, wat jou omhels en onmiddelik jou naam vergeet nie, maar 'n opregte belangstelling in mens as individu. Die inboorlinge is van nature gasvry en hulpvaardig. Nuuskierig ook; as buitestaander is dit lekker as iemand in jou belangstel. In die klaskamer, in die winkels en by die veearts word ek steeds uitgevra waar ek vandaan kom, van presies watter deel in Suid-Afrika, waarom ons in Skotland woon, en die vraagsteller het gewoonlik 'n eie brokkie nuus oor of perspektief op Suid-Afrika. In gesprekke van geskiedkundige en politieke aard is dit duidelik dat die Skotte en die Afrikaners baie in gemeen het: hulle het tydens die 'Highland Clearances' in die laat 18de eeu hulle eie apartheid deurleef, hulle belewenis van die inmengery en geboelie deur die Engelse, en die interne debatte en konflikte rondom godsdiens en nasionale identiteit wat vandag steeds voortduur. Raakpunte soos hierdie lei daartoe dat ons empatie met mekaar het.

Ons woon al amper vier maande hier. My Skotse aksent verbeter daagliks - volgens my kollegas - want elke dan en wan glip vreemde woorde soos 'wee' en 'aie' uit. Ons is gelukkig hier, beplan nie om na ons Moederland terug te keer nie. Hierdie unieke volk, met hulle misterieuse voorvaders en kleurvolle geskiedenis, begin wortel skiet in ons harte.


'For that is the mark of the Scots of all classes:
that he stands in an attitude towards the past
unthinkable to Englishmen, and remembers and
cherishes the memory of his forebears, good or
bad; and there burns alive in him a sense of identity
with the dead even to the twentieth generation.'

Robert Louis Stevenson

Voordat Skotland egter soos ‘n nuwe Utopia klink, sal ek in my volgende bydra ook minder aangename ervaringe deel - van spelfoute in koerante tot ongepoetste skoolseuns.