Sunday 16 May 2010

Hoe eerlik kan mens wees?

Hoe eerlik kan mens wees in so blog?  Deesdae met bietjie inligting van Google maps en miskien 'n gelukskoot op Facebook kan enigiemand op aarde uitvind presies wie ek is, waar ek bly en hoeveel diefwering voor ons vensters is.  My blog gee nog meer van ons weg en dit laat mens nogal ongemaklik voel.  Die paranoia bestaan ook op die Web - kyk na die bohaai wat oor Facebook en 'n paniekknoppie opgeskop word.

In die regte lewe is daar mense wat jy ontmoet en binne die volgende 5 minute weet jy dat hulle
a)  as kind diep verwond is,
b)  gaan vir diepwater-aan-die-voet-oplig terapie,
c)  'n streng vegetariese dieet volg,
d) en vandag broos voel as gevolg van die maan se siklus.
En al wat jy dink is: huh?!  Bly weg, bly weg.

Maar terselfdertyd is die webwerwe vol mense wat dinge in anonimiteit aan mekaar erken wat hul skynbaar nooit in die 'regte' lewe sou doen nie.  So iewers moet die balans gevind word tussen om nie jou perels vir die varke gooi nie maar steeds eerlik te wees.
Die huidige verkiesingsveldtog en uiteindelike verklaring van 'n LibCon regering laat my verder wonder.  David Cameron en Nick Clegg is nou best buddies, 'n skamele week nadat hulle mekaar as aartsvyande uitgekryt het.  Maar dis net politiek, wat niks met die regte lewe te doen het nie.