Saturday 13 March 2010

Afwesighede

Die lewe vat soms lang draaie. Nee, nee, wat 'n cliche. Eerder, die lewe gebeur en soms word mens saamgesleur sonder keuse. In die stroom is dit altyd beter om te ontspan en saam te dobber as om te spartel. Kom spring saam in die water.

Ek en my man is nou trotse, angstige ouers van 'n een-jarige babatjie genaamd Ben. In my agterkop het ek die fantasie gekoester dat moederskap 'n toestand van algehele genot met occasional hiccups is. Dat ek gaan blom op 'n nuwe wyse en tydens al die ure wat hy slaap pittige blogs oor moederskap gaan kwytraak. Haaaaaahahaha!!! (rol op die grond en lag histeries)
My ouma, ma en al die ander moeders wat ek ken was reg: daar is niks op aarde - of in die ruimte - wat jou op die mallemeule van ouerwees voorberei nie. Ek gaan nie eers uitbrei op die lang geboorte wat in 'n noodkeiser gekulmineer het nie, of die slapelose nagte wat helaas nog nie verby is nie. Dit is alles niks in vergelykig met die relentlessness van jou oorweldigende gevoelens vir die vreemdeling nie. 'n Oorweldiging van liefde, bekommernis, verwondering, angs, en kannie-ophou-kyk-na-my-kind nie. Nou nog knyp ons onsself en sê: dis ons s'n?!

Ek gaan ook nie tyd mors deur te koer oor hoe wonderlik dit is om 'n ma te wees nie, want, liewe leser, soms suig dit. Dis baie vervelig om dieselfde goed oor en oor te doen, en mens wag nogal lank voordat baba regtig begin terug kommunikeer. Vir 'n groot deel van die eerste jaar is dit 'n raaispel en net omdat jy ma of pa is maak jou raaiskote nie altyd reg nie. Ek sal ook nie aanbeveel om 'n baba te hê in die koudste winter wat Skotland nog getref het nie. Ten spyte van die wonderskone sneeu kon ons nie regtig met baba uitgaan nie, en phew, dit raak vervelig.
Haai sies, ek lees hierdie en voel skuldig dat ek so kla. Maar hello skuldgevoel, my skoonsuster sê dit peul so saam met die nageboorte uit. Erens het die kondome wat ons so getrou gebruik het in die asdrom beland, en wat 'n wonderlike besluit!