Showing posts with label Opinies. Show all posts
Showing posts with label Opinies. Show all posts

Thursday, 26 August 2010

Slapeloos in Skotland

Slapeloosheid.  Die vloek van die moderne mens.  Die euwel van ons tyd.  Die ondier in die plesier.  Slapeloosheid suig.


Ek het gisteraand genoeg geslaap, die dat ek meer alliterasie gebruik as gewoonlik.  Ek lei al van jongs af aan slapeloosheid.  Die eerste keer wat dit regtig onder my aandag gekom het was die aand voor my eerste Jool.  Ek kon nie slaap nie, 1uur, 2uur, 3uur...Ek het die aand by vriende oorgeslaap en hulle het een van daai fancy alamstelsels wat afgaan sodra dit bewegings raaksien in die huis, en ek het nie die kode gehad nie.  Ek sal nooit vergeet hoe ek in die klein kamertjie rondgerol en gedraai en gesit het nie, doodmoeg maar te opgewonde om te slaap.  'n Jaar of so later sou ek vir 'n week lank nie slaap nie, maar dis 'n ander storie.

Slapeloosheid laat jou aaklig voel en lyk.  Selfs ek, wat nie besonder baie slaap nodig het nie, verpes die gevoel van onderliggende vaalheid wat 'n nag met min slaap opvolg.  Kleure is minder helder en my geheue is so sluggish soos 'n slak wat deur diep modder aansukkel.  My vel is sonder enige sprankel en oor die algemeen is ek baie meer moerig.  Ek vermoed dat ek mawees vir so lank uitgestel het omdat ek nie besonder lus was vir die slapeloosheid wat babatjies bring nie.  My baba het aanvanklik goed geslaap, en toe baie sleg begin slaap, en toe begin ek ook ophou slaap.  (Niks is so goor soos om wakker te lê terwyl jou baba slaap nie).  Dit was donker tye, saam met die donker van sneeu en winter, maar mens kom op 'n manier daardeur.

Ek het al baie navorsing oor slapeloosheid gedoen.  Die nuutste navorsing bewys dat mens minder slaap nodig het soos jy ouer word, en dat 5 tot 6 ure se slaap 'n nag heeltemal genoeg is om te funksioneer.  Jou gesondheid behoort nie daaronder te lei nie, wel jou gemoed (moerig, issigrimmig ens.)  Mens kan deesdae na slaapklinieke gaan met spesiale slaapspesialiste wat allerhande goed kan diagnoseer. Groot besigheid, is slaap.  Ek het selfs uit desperaatheid 'n kursus gevolg wat belowe om jou slapeloosheid FINAAL te oorkom, maar ongelukkig het dit nie gewerk nie.

In die vroeë oggendure is dit stil soos 'n droom buite.  In die Somer sien ek soms die krimpvarkie in ons tuin rondsnuffel.  Die lug het 'n besondere vars kwaliteit en soms skyn die maan so helder soos 'n buitelig.  Jou brein maak wilde draaie in jou verlede en toekoms, maar huppel oor die hede.  Vrede voel buite bereik, maar om vrede te maak met die slapeloosheid is ongelukkig die enigste manier om weer soet aan die slaap te raak.

Sunday, 16 May 2010

Hoe eerlik kan mens wees?

Hoe eerlik kan mens wees in so blog?  Deesdae met bietjie inligting van Google maps en miskien 'n gelukskoot op Facebook kan enigiemand op aarde uitvind presies wie ek is, waar ek bly en hoeveel diefwering voor ons vensters is.  My blog gee nog meer van ons weg en dit laat mens nogal ongemaklik voel.  Die paranoia bestaan ook op die Web - kyk na die bohaai wat oor Facebook en 'n paniekknoppie opgeskop word.

In die regte lewe is daar mense wat jy ontmoet en binne die volgende 5 minute weet jy dat hulle
a)  as kind diep verwond is,
b)  gaan vir diepwater-aan-die-voet-oplig terapie,
c)  'n streng vegetariese dieet volg,
d) en vandag broos voel as gevolg van die maan se siklus.
En al wat jy dink is: huh?!  Bly weg, bly weg.

Maar terselfdertyd is die webwerwe vol mense wat dinge in anonimiteit aan mekaar erken wat hul skynbaar nooit in die 'regte' lewe sou doen nie.  So iewers moet die balans gevind word tussen om nie jou perels vir die varke gooi nie maar steeds eerlik te wees.
Die huidige verkiesingsveldtog en uiteindelike verklaring van 'n LibCon regering laat my verder wonder.  David Cameron en Nick Clegg is nou best buddies, 'n skamele week nadat hulle mekaar as aartsvyande uitgekryt het.  Maar dis net politiek, wat niks met die regte lewe te doen het nie.