Sunday 18 May 2008

My broer se wors


My broer se wors

'n Vis uit die water. Alienated. Ek probeer aan goeie beskrywings dink om die gevoel van vreemdeling-wees in 'n ander land, wat mens soms beetpak, te beskryf. Dis nie soseer dat dinge soveel anders is nie: inteendeel, hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer gepas is die uitdrukking:

Plus ça change, plus c’est la même chose

Mense se basiese behoeftes, vrese en begeertes is eintlik orals dieselfde. Die boemelaar op straat is hier net so op die rand van die samelewing as die Bergies in Kaapstad. Die rykes hier pof hulself met dieselfde uitspattighede as die Sandton-tannies in Johannesburg op. En die middelklas van Edinburgh soek ook na iets beter vir die toekoms, nes die middelklas van Bloemfontein. Die verskil is dat almal in Suid-Afrika eie aan jou was, soos niemand hier ooit jóúne gaan wees nie. Die mislukkings van die rykes, armes en middelstes (ek kan steeds nie besluit waar ek inpas nie) was in Suid Afrika ten minste bekend. Hier gaan ons altyd anders wees.

Dis hoekom my broer en sy wors so welkom is. Nee, besluit hy, hy is lus vir regte boerewors en hy gaan dit self maak. My broer is 'n Steenbok maar ek het steeds gedink hy maak 'n grap. 'n Paar dae later kom die posman met 'n pakkie aan, en dis toe 'n outydse silwer vleismeultjie. Vir wors, sê my broer, met 'n glinster in sy oog. Ons het almal Vrydagaand in die kombuis vergader terwyl die proses ontvou. Hy het my ma gebel en die Internet geraadpleeg, en die goedgegeurde vleis is met die hulp van klein handjies deur die meule. Toe word die falliese kontrapsie om die wors mee te stop, aangesit. Teen hierdie tyd ruk die vuil grappies en insinuasies amper handuit. Die worsderm – van egte vark – is tydsaam gestop en daar eindig die proses met twee borde egte boerewors.


My broer was laas so trots met die geboorte van sy tweede dogter! En Sondag is die einste wors gebraai oor die kole … ek het hard aan die knop in my keel gesluk. Dit was meer as net wors, meer as net vleis, dit was 'n greep uit die verlede wat eintlik 'n ander land is.

Friday 28 March 2008

Klein Kelty



Ek blameer my ma, een-honderd persent. En my pa, hy is net so skuldig. Hulle het my aangemoedig om boeke te lees soos PH Nortje se “Son”-reekse, en televisieprogramme soos Koöperasie Stories te kyk (dit nadat TV-kyk nie meer sonde was nie …). Ek is verder gebreinspoel met Toujours Provence en Babette's Feast - lieflike verhale van gemeenskappe en/of families wat saamwoon in lief en leed. Aan die een kant voer die meer nugtere kant van my brein aan dat sulke sketse 'n idealistiese hopie Kilo Alfa Kilo is, maar aan die ander kant, hmmm. Soek ons elkeen nie maar na so plekkie in die klein-gemeenskappie-son nie?

In Suid-Afrika was my gevoel van behoort nie aan 'n plek verbonde nie, eerder aan sekere mense. Ek het gereeld bekendes in Exclusive Books ontmoet, was op voornaam-terme met die eienares en span kelners van Café de la Derniẽre Rose, en het op 'n stadium die koek-spyskaart van die Grapevine uit my kop geken. Maar my soeke na die outentieke gemeenskapservaring, soos gesien in Jean de Florette, het reguit na Europa gelei, en toe land ek op die ou end in Engeland. Groot fout. Êrens op die Engelse platteland is daar sekerlik dorpies weggesteek waar die mense mekaar ken en bure resepte uitruil, maar waar ons gebly het was onpersoonlik en gejaagd - net soos die stede in Suid-Afrika.

In Skotland ontdek ons toevallig die dorpie Kelty; klein, soms vuilerig, maar groot van hart en skinderstories. Oppad na die biblioteek het ek en nuwe kennisse dikwels “a wee blether” (Skots vir geselsie aanknoop). In die agtertuin word ons weekliks deur die buurman met stories oor die dorp se doen en late vermaak. Ek ken al die tannies by die winkel se gesigte en kan ook nie meer by die kerk se liefdadigheidswinkel ingaan sonder om 'n paar minute daar te staan en kuier nie. Heerlik!

So gepraat van. Dit was Sondag en ons was op soek na kondome. En in die hele Kelty kon ons nie 'n enkele kondoom in die hande kry nie! Eerstens het ek en my man gestry oor wie eintlik die plesierpakkie moes gaan koop, want ek het gevoel hý moet, hy is 'n man en dis mos wat hulle doen, is dit nie?! Op die ou end is dit ek want hy het laas keer.

Ons het aan die een kant van die dorp begin, by die beknopte winkel doer in die hoek, verste van die kerk af. Toe ek vra vir kondome het die assistent haar oë 'n paar keer geknip.

"No, we don't sell them.”

Ek was vies, want ons leef in die een-en-twintigste eeu en hoe kan mens dan nie by 'n algemene handelaar in 'n eerstewêreldland 'n sterretjie-sterretjie-sterretjie pakkie kondome koop nie? Ons is summier na die volgende, grootste algemene handelaar op die dorp. In die rak by die toiletartikels kry ek ook niks en nader ek die tannie wat toevallig daar staan en rakke afstof.

“Excuse me, do you sell condoms?” Sy was min gespin.

“Aie, but I don't know whêrrre they arrre. With all the recent chaenges everaything is lying aboot. Whêt, let me look in the office.”

Na 'n paar minute kom sy terug, nee, sorrie, ek moet agter die toonbank vra. Ek staan in die ry en toe is dit my beurt.

“Nhêxt, please.” Groot stem, die antie.

Ek leun so half vooroor. “Do you have any condoms?” fluister ek.

“Wherre arrre the condoms?” roep sy dat dit deur die hele winkel weergalm. En soos een man draai almal in die plek om en staar. Na my. Die een wat kondome koop. Ek het effens verbouereerd na die meisie langs my gekyk, en sy het lekker begin lag. Dit terwyl die tannie met die groot stem op en af agter die toonbank loop, haar stem op sy hardste volume-stelling, op soek na die kondome.

Ek is op die ou end met leë hande daar uit, bietjie verleë en baie gefrustreerd (ha-ha!). Ek dink nie iemand van my kerk was daar nie, gelukkig. Ons sal maar vir volgende week oor die Internet ons inkopies doen.

Saturday 19 January 2008

Huise met verrassings

Ons nuwe huis, wat eintlik nie meer so nuut voel nie, het allerlei geheime. Behalwe interessante 'nooks and crannies', het die vorige eienaar ook 'n paar verrassings van sy eie hier gelaat. Soos die rioleerstelsel wat regtig suig (pun intended), kamerdeure wat nie behoorlik toegemaak kan word nie en skewe vensters. My man ly aan regmaakkoors: elke oggend as hy wakker word, sien hy iets anders wat reggemaak moet word. Ek fantaseer meestal oor hoe die plek gaan lyk nadat hyons al die veranderinge aangebring het.

Maar die huis het 'n verhaal van sy eie, hoor ons by die bure. Ding-dong, lui die klokkie een aand gedurende die vakansie, en daar staan ons twee bure. Nee, wil hulle weet, is altwee ons katte veilig en in die huis? Want daar miaau 'n kat verskriklik agter in hulle tuin, en hulle wou net kom seker maak. Ons soek die katte, maar Minerva en Vos is soos gewoonlik opgekrul op die bed, vas aan die slaap. Katte is hier en snoesig; shame vir die arme katjie buite, maar wil hulle nie inkom vir koffie nie?

Hulle kyk vir mekaar en sy trek haar neus op, ag nee dankie, hulle het pas geëet.

Wat van 'n whiskey?

Weer 'n vlugtige kyk.

“Ja, dankie, dit sal lekker wees”, en daar sit ons almal 'n rukkie later en kuier met 'n smaaklike enkelmalt in die hand. Ons kort nog net 'n kaggel.

So deur die loop van die aand vertel Sandra - 'n kurator wat besig is met haar Meestersgraad in Museumkunde - ons die huis se geskiedenis. Toe Kelty nog 'n myndorpie was, aan die einde van die 19de eeu, is huise gebou waarin 'n paar families sommer saam in een huis gewoon het. Die toilet, kombuis en waskamer was aparte geboue en ons huis was 'n klein enkelvertrek waskamertjie, en na regte moes dit nooit 'n woonhuis geword het nie. Maar dit het, skelm so deur die jare en onderdeur die radar van die dorpsraad. 'n Paar jaar gelede gaan ons buur-tannie, wie se huis reg langs ons s'n is maar aan die straat kant, op 'n lang vakansie na Amerika. Sy vra die vorige-vorige-vorige eienaar van ons woning om asseblief 'n ogie oor haar huis te hou. Hy het nie net haar woning opgepas nie, maar toe sy na 'n paar maande terugkeer, het hy die grenslyn verskuif en 'n kombuis en voorportaal aangebou. Sonder om vir haar 'n woord te sê! Die tannie het, soos te verstane, amper 'n koronêr geskiet, maar die buurman, slinkse besigheidsman wat hy is, bied haar toe £500 kompensasie aan. Nou ja, in daai tyd was dit 'n aansienlike bedrag en die voorportaal en kombuis staan vandag nog.

Vorderingsverslag van die groot omskepping: hier is die verskil wat 'n pot verf aan 'n kamer kan maak:

VOOR



NA