Met ons aankoms in Skotland het ons 'n reusagtige huis gehuur. Met 'n tuin, 'n lieflike uitsig oor die Forth rivier én 'n garage, vir dieselfde prys as 'n eenslaapkamerwoonstel aan die verkeerde kant van die treinspoor naby Londen. Ek sou graag in Edinburgh wou woon, maar dis goedkoper aan die hierdie kant van die rivier, en ek het van die naam Fife gehou – ek speel immers fluit.
Die huiskoopstelsel in Skotland is 'n uitgerekte en gekompliseerde affêre. Eerstens kies jy 'n huis waarvan jy hou en maak 'n aanbod daarop. Die huis se prys is óf fixed (vasgestel) óf offers over (die minimum bedrag waarvoor die huis verkoop sal word). Jou aanbod word saam met x-aantal ander mense s’n ingedien en die eienaar kies die aanbod wat hom die meeste aanstaan. Glo my, huiseienaars kies ad lib. As hy of sy nie van jou prys/gesig/nasionaliteit/bank hou nie, tough. Gedurende die tyd wat jy 'n aanbod op huis A gemaak het, mag jy nie op enige ander eiendom 'n bod maak nie, dis onwettig. En die eienaars vat soms hulle tyd om jou te laat weet of jy suksesvol is of nie. Jy kan dus nie opgewonde raak oor jou voornemende plekkie in die Skotlandse
Na ure se soektogte op die Internet en 'n paar verskille wat die huweliksbootjie deur
stormagtige waters gestuur het, het ons hierdie huis gekies:
Die droomhuis, met sy lieflike klipmure en oudwêreldse sjarme. Sou al die vriende en familie liederlik met só huis kon jaloers maak. Maar die droomhuisie het net-in-jou-drome huisie geword: ons aanbod is nie aanvaar nie.
Na erge kopkrappery en besoeke aan veelvuldige eiendomme (wat nie aan ons groeiende lys van vereistes voldoen het nie), het ons uiteindelik hierdie huis ontdek. Minder verruklik as die vorige een, meer prakties en alledaags. En goedkoper.
Ons aanbod, wat buitesporig hoër as die voorgestelde prys was, was ook onsuksesvol. Een of ander cowboy het amper dubbel die bedrag vir die huis aangebied as waarvoor dit in die mark was! Ons het ons stelling dat eiendom in Skotland goedkoper as in Engeland is, heroorweeg. Die gekke eiendomspryse het saam met bek-en-klouseer oor die grens getrek.
En toe, heeltemal uit die bloute, kom ons op ons huis af. En die prys is “vas”, die koper haastig, en ons aanbod word aanvaar. Halleluja! Nou het ons 'n huis, wat só lyk:
Onkonvensioneel, prakties, ruim, alleenstaande, met 'n groot tuin en baie ruimte vir verbetering. En dít is wie ons is.